
André Barnard word deur Clyde Avontuur as raadslid ingesweer.
André Barnard van Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), is verlede Vrydag, 27 Junie, as raadslid van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit ingesweer.
Hy neem as raadslid oor nadat Colan Sylvester op 4 Junie uit die raad bedank het. Sylvester het gesondheidsredes vir sy bedanking aangevoer. Hy was sedert 2016 by plaaslike politiek betrokke en was vir ’n tydperk as lid van die DA die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn.
Hy het uit die party bedank en as lid van OGI aan die plaaslike verkiesing van 2021 deelgeneem. OGI het na afloop van dié verkiesing ʼn proporsionele setel op die raad ontvang.
Aangesien Sylvester nie ’n verkose wyksraadslid was nie, kon OGI ’n plaasvervanger aanwys. André Barnard is deur die party aangewys. Hy is tydens ’n spesiale raadsvergadering op 4 Junie deur die munisipaliteit se regsverteenwoordiger, Clyde Avontuur, as raadslid ingesweer.
Oor sy amp as raadslid het Barnard aan Die Hoorn gesê: “Inwoners moet leer om verantwoordbaarheid te eis. Die dorp behoort aan sy inwoners. Sonder inwoners is daar nie ’n bestaansreg nie. Ek sien my aan-stelling as uitdagend en ek sal my beywer om in spanverband tot voor-deel van al die Groter Oudtshoorn se inwoners te werk.” (HANNES VISSER)