Memorandum onderteken

KK Sakekamer en Oudtshoorn Munisipaliteit

Allan Paulse, munisipale bestuurder van Oudtshoorn (regs), en  Fred Schroeder (uitvoerende hoof van die Klein Karoo Sakekamer) by die ondertekening van ’n memorandum van ooreenkoms verlede week.  Foto: Wyndham Ewerts

Allan Paulse, munisipale bestuurder van Oudtshoorn (regs), en Fred Schroeder (uitvoerende hoof van die Klein Karoo Sakekamer) by die ondertekening van ’n memorandum van ooreenkoms verlede week.  Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
DIE Klein Karoo Sakekamer (KKSK) en die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het verlede Vrydag ’n ooreenkoms gesluit en ’n Memorandum van Ooreenkoms onderteken. Die memorandum is aan die dorp se munisipale bestuurder, Allen Paulse, oorhandig.

Die ooreenkoms bepaal dat die munisipaliteit sal saamwerk met die KKSK om te verseker dat gevorderde besigheidsopleiding verskaf gaan word aan geskikte kandidate wat geïdentifiseer sal word deur die raad.

Volgens die memorandum is die ooreenkoms geldig vir drie jaar.

“Die munisipaliteit is ’n groot voorstaander van ekonomiese groei en daarom beoog ons om die ooreenkoms te hernu na die vasgestelde tydperk,” het Paulse by die geleentheid gesê.

“Hierdie is ’n heuglike dag vir ons organisasie wat baie gaan beteken vir entrepeneurs en inwoners van die dorp,” het Fred Schroeder, uitvoe­rende hoof van die KKSK, gesê.

“Een van ons hoofdoelwitte met hierdie ooreenkoms is om klein besighede in agtergeblewe gebiede te bemagtig sodat hulle ook deel kan word van die hoofstroom-ekono­mie.”

Ingevolge die ooreenkoms sal die munisipaliteit ook ’n lokaal verskaf vir die KKSK-bestuur se kwartaallikse vergaderings op voorwaarde dat daar twee weke vooraf kennis aan die munisipaliteit gegee word.