Drie voertuie in botsing, vier mense beseer

Twee mans wat agterop die Isuzu-bakkie gesit het tydens die botsing, is op die toneel vir beserings behandel. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
’N VERKEERSIRKEL, verkeersligte of ’n verkeersbeampte op dié hoek, asseblief.
Dit was die afgelope week die versoek van ontstelde Oudtshoorniete nadat vier mense verlede Vrydag in nog ’n botsing op die berugte hoek van Baron van Reede- en Van der Rietstraat beseer is.
Drie voertuie was in die botsing betrokke wat omstreeks 07:20 plaasgevind het – ’n tyd wat beide strate heelwat verkeer dra.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing plaasgevind toe ’n Volkswagen Polo wat vanuit die rigting van die Kango Grotte in Baron van Reedestraat gery het, na bewering in Van der Rietstraat ingedraai en met ’n wit Isuzu-bakkie gebots wat vanuit die teenoorgestelde rigting gekom het.
’n Bakkie wat in Van der Rietstraat by die stopteken gestaan en wag het, is ook getref.
Na verneem word, was daar ’n voertuig voor die Isuzu-bakkie wat waarskynlik verhinder het dat die bestuurders van die Polo en Isuzu mekaar kon sien en die botsing kon vermy.
Twee mans agterop die Isuzu-bakkie wat aan die bouer Evert Smit behoort, is beseer, terwyl ’n passasier van die Polo en ’n sewejarige kind na die hospitaal geneem is.
Smit sê een van die twee beseerde mans is vir ’n ligte nekbesering behandel, terwyl die ander een steke in die oogbank moes ontvang.
Sy voorman wat die bakkie bestuur het, Jan Claassen, is nie beseer nie.
• Onstelde lesers het op Die Hoorn se Facebook-bladsy hul ontevredenheid uitgespreek oor die gevaarlike straathoek met verskeie voorstelle vir beter verkeersbeheer op dié hoek.
Die toekoms van verkeersbeheer vir dié straathoek lê egter in die hande van die Wes-Kaapse regering.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, het einde April na ’n ander botsing daar gesê slegs die provinsiale regering mag ’n besluit oor verkeersbeheer daar neem omdat Baron Van Reedestraat onder hul beheer val.
Die pad is deur die provinsie geklassifiseer as ’n hoër orde-roete wat medium verkeer dra. Volgens die klassifikasie moet die verkeer daar voorkeur kry en nie aangemoedig moet word om te stop behalwe vir voetoorgange nie.
“Ons het reeds verskeie briewe aan die Wes-Kaapse regering geskryf vir bystand oor die beheer van verkeer op die pad,” het Mangqwengqwe gesê.