Poem Mooney vertel stories van verskillende plekke…
My ma is op Zeekoegat gebore. Sy het dit altyd met trots vertel. Ons is gedurig na al daardie bekende plekke op reis geneem. Zeekoegat, Argentina, Tierberg en die Poort waar ou Dekker so baie mense na bewering doodgemaak en hul oorskot in die kranse versteek het. Stories uit die volksmond oorvertel van geslag tot geslag…
Ou Dekker op sy groot wit perd. Hoe hy mense teëgekom en hulle gevra het hoekom hulle so alleen loop en hulle uitvra oor waarheen hulle so laat op pad is. Terwyl hulle maar alte bly is oor dié geselserige vreemdeling wat die angs en eensaamheid verlig, praat hulle oor die ongemak hier kort voor sononder en hulle vrees vir die wit man van wie hulle al so baie gehoor het en wat al so baie mense doodgemaak het. Sou die vreemdeling dan vra: “Maar wie is die witman?” Waarop die alleenloper sou op- merk: “Hulle sê die baas se naam is Ou Dekker, waarop die man op die perd sou antwoord: “Nou, ek ben Dekker.”
Volgens die storievertellers sou die landloper in aller yl rieme neergelê het, hy of sy sou iewers op die uitgestrekte vlaktes as ’n dooie geëindig het of skoon van die aardbol af verdwyn het.
Dit is juis op dié pad waar my ma vir my pa, Koenraad Mooney, ontmoet het. My pa en sy suster Katrina, het by hulle oompie Charlie Mooney en sy vrou, Ouma Katrinatjie, grootgeword. Hulle biologiese ouers is dood met die griep van 1918. My oompie Charlie was voorman by oom Manie Mosterd op Tierberg.
Oom Charlie was ’n vermoënde man, het mnr Blaauw altyd vertel. Hy was ’n sterk man en het die kinders goed grootgemaak. Hy’t ’n sagte plek vir my pa gehad en hom baie voorgetrek. Mnr Blaauw, ’n oud-inwoner van Prins Albert, het vertel dat die buitegeboue op Tierberg op ’n dag gebrand het. En my pa, ’n goeie fietser, het die 18 myl afgejaag dorp toe om die brand aan te meld.
Dis met dieselfde BSA-trapfiets wat hy een oggend op Argentinia, Sam Curr se plaas waar my ma en haar jeug-vriendin Katrina (my pa se suster) in diens was, by die plaasdam stilgehou het, vol bravade van sy fiets afgespring en vir my ma gesê het: “Onthou, die fiets ry ek stukkend agter jou aan!” En so het hy die hardkoppige dogter van oom Gert Balie se guns gewen.
Oompie Charlie het siek geword. Dubbele longontsteking het die dokter gesê. Die Mosterds en boere in die omgewing het met rate vorendag gekom. Alles is probeer, maar tussen al die huisrate en doktersbehandeling het daardie sterk, harde arbeider die stryd verloor en is hy op Tierberg begrawe. Die graf is vandag nog daar. Sy graf en die graffie van ’n dogtertjie wat deur ’n slang doodgepik is. Dit is nog steeds die voorneme van die Mooneys om daardie graf op Tierberg te herstel.
My ma het vertel van die begrafnis op Tierberg. Hulle het met ’n oop lorrie Tierberg toe gery. Dit was ’n groot begrafnis. Daar was mense van die omgewing en elders. Sy vertel met ’n veraf blik in haar oë: “Dit was hartseer om te sien hoe oom Willem Ludick die vee van die oorledene ná afloop van die begrafnis aangejaag het. Sulke werwe vee. Dit is asof ek vandag nog kan sien hoe die stof onder hul pote opstaan.”
Dit was die prentjie wat sy kon onthou. En dieselfde oom Willem Ludick is die oupa Willem wat ons leer ken het met Ouma Katrinatjie op Swartrivier, die huidige olyfplaas verby die gholfbaan, net kort duskant die Swartrivier, op die grondpad Kruidfontein toe.
Zeekoegat, Argentinia, Tierberg, die Poort en die Kop se Punt – die lig van die Karoo, het elk sy eie stories gehad.
Ons het jare daarna nog daardie pad gery as ons op Prins Albert gekuier het. Soms het ons die pad Beaufort-Wes toe gevolg en by Zeekoegat afgedraai na Prins Albert toe en moes ons male sonder tal na stories oor bostaande plekke luister. So het Prins Albert en die landelike gebiede deel van my lewe geword.
My ma en pa het ons die storie van die lig van die Karoo vertel. Die lig wat al voor hulle uitbeweeg het as hulle saans die 18 myl uit die dorp huis toe gestap het. Kompleet soos ’n lig van ’n motor, en hoe hulle soms vir mekaar gevra het: Waar is die lig dan vanaand, of wat het van die lig geword, wanneer laas het julle die lig gesien?
Ons eerste motor was ’n 1936 Chev-rolet. Dit het die afstand tussen Oudts-hoorn en Prins Albert korter gemaak. Ons kon nou naweke kuier en huis toe ry wanneer ons wou.
Toe die Franse die sterrewag op daardie pad aangelê het, het ons snags huis toe, Oudtshoorn toe, gery.
Baie aande het ek toe oë agter in die motor gesitlê, want ek was bang ons kom op die lig af. Dit het egter nooit gebeur nie en toe my vrees vir die lig afgeneem het, het ek selfs oor die verskynsel probeer oplees.
Dit was die boek Karoo van Lawrence Green wat meer lig op die saak gewerp het. Op bladsy 70 het ek raakgelees: Many years ago a man murdered his wife in the riverbed near Beaufort West. Ever since then, the people say a fiery will-o-the-wisp, the dreaded oog larger than the new moon, has been observed moving up and down the river. It is the spirit of the wife seeking revenge. You see it coming; and then, at the moment when a clash appears to be inevitable, it vanishes. Animals, especially horses, stand and sweat with fear when they see it.
Another version of the legend described it as a spirit of a mother, seeking her daughter who had been drowned in the river. Scientists think its formed by inflammable gas executed by the rotting plant life of the river bed. The oog is observed more often in wet seasons than in times of drought.
Dit het gemaak dat my oudste broer ons omgepraat het om na die lig te gaan soek. Hy het voorgestel dat ons ons gesinne moet saamneem. Dit was presies 35 jaar gelede. Ons is met drie karavane Prins Albert toe. Ons het die stofpad aangedurf dorp uit, om die Kop se Punt, Poort toe.
So om en by vyfuur het ons laer opgeslaan by ’n lekker aftrekplek in die Poort. Ons het hout gaan breek in die rivier en in die opening tussen die drie karavane ’n vuur aangeslaan.
Dit het gou donker geword en ná ’n heerlike braaivleisete, het ons die kleinspan in die bed gekry. Ons het tot laat om die vuur gekuier en stories vertel. Dit het my opgeval dat dit buitekant die ligkring van die vuur so donker was dat jy jou hand nie voor jou oë kon sien nie.
Twaalfuur sê my broer: “Kom ons gaan soek die lig. Gewapen met flitse is ek en my broers pad af dorp se kant toe. Ons het die vroue, kinders en die vuur agtergelaat en is die donkerte in.
En toe sien ons die lig. Ek was oombliklik lam van skok. Die lig het die kranse rondom ons verlig, helder en helderder en toe hoor ons die dreuning.
“Dis ’n motor,” het ek verlig gesê.
Toe die voertuig verby is, het ons in die stilte omgedraai na ons kampplek toe. Ek het gevoel hoe my nekhare rys. Ek moes die drang onderdruk om nie te hardloop nie.
Ons het nog hout op die vuur gepak en gesien hoe die vonke in die lug opskiet. Dit was ons eerste en ons laaste soektog na die lig van die Karoo.