Is dit wysheid saam met die grysheid of is dit wat mens “grace” noem?
Die Afrikaanse woord vir grace is genade, maar dit pas nie in hierdie konsep in nie, want my genade beteken niks vir ander nie.
Toe ek jonger was, was dinge of reg of weg gewees. Daar word gepraat van wit, swart en grys areas in mens se lewe. Dinge wat jy sal toelaat en dan is daar kwessies en situasies waarop jy net dood-eenvoudig by jou standpunt bly en nie eens ’n bom kan jou siening verander nie.
Noudat ek ouer is, wonder ek wat het geword van daardie persoon wat by haar standpunte gestaan het en onbeweeglik was.
Nou kom die wysheid met die grysheid. Ek weeg sekere situasies teen mekaar op en dan kom ek agter ek sien nie kans vir die moeite, seer, oor begin of hartseer wat daarmee saam gaan nie.
Beteken dit dat ek nou maar alles net so aanvaar en ’n blinde oog gooi, en my lot aanvaar? Nee, beslis nie, want dinge maak my nog steeds hartseer en kwaad. Ek besluit net hoe ek daarop gaan reageer.
Gaan ek my speelgoed uit my kot gooi en ’n helse bakleiery begin wat weke lank uitrek en gevoelens wat nie uitgesorteer word nie tot gevolg sal hê? Of gaan ek nou maar wag, en wanneer die tyd reg is met die persoon rustig oor die situasie gesels? Dit help soms wanneer mens bie-tjie wag totdat die woede net eers bedaar.
Woorde wat gesê word wanneer mens kwaad is, kan nie maklik teruggetrek word of ongehoor word nie. Dis dieselfde wanneer die Bybel sê mens moet ’n wag voor jou mond sit.
PSALMS 141:3-4 “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê. Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste”.
Dit is makliker gesê as gedaan, want ek is steeds maar ’n “fighter” en ek staan op vir dit waarin ek glo en vir wat reg is. Die verskil is, nou weeg ek die situasie op, asook die gevolge van my dade in die situasie en neem my tyd om eerder ’n beter manier te probeer vind om ’n oplossing vir die probleem of situasie te kry.
Natuurlik is my hart steeds seer as dit ’n hartseer situasie is, of ek word nog steeds kwaad, dis menslik en ons is maar net mense. Die belangrikste is om ook te besef dat niemand perfek is nie, ons is net mense met baie foute en tekortkominge, en dis oukei.
Wanneer hierdie situasies hulle voordoen, kan ek my net indink hoe God moet voel wanneer ons hom teleurstel. Dit kan daagliks wees wanneer ons dalk kwaad raak vir iemand in die verkeer en bitsige kommentaar lewer of as ons dalk iemand se situasie oordeel. Dan sê ek elke dag dankie vir Sy GENADE, want sonder dit sou ons niks wees nie. En, omdat hy my vergewe, help dit my ook om ander te vergewe, en grace vir hulle tekortkominge te hê.
2 Korinthiërs 12:9 “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (ANGELIQUE ERASMUS)
Wysheid teenoor “grace”
Generic image