In die warmstoel: Dieselfde, maar heeltemal anders

Hannes Visser

Die afgelope naweek het ek my hare losgemaak – figuurlik natuurlik, want hulle is skaars 10 mm lank – en net van die wêreld vergeet. Ek het die Buffalo Rally in Hartenbos meegemaak en opnuut besef hoe eenders mense in hulle andersheid is.

Die een faktor wat almal natuurlik bymekaarbring is motorfietse en van hulle was daar seker 1 500 of meer. Ek is nie meer die spreekwoordelike kuiergat nie, maar ek geniet mense en is heel tevrede met ʼn glas wyn nou en dan en om net rond te hang en die mense te ervaar.

Daar is vreemde persepsies oor motorfietsryers besef ek toe ek Vrydagmiddag in Hartenbos by Pick n Pay instap om iets te ete te koop. Ek stap deur die rakke en staan besluiteloos voor die yskas met sappe en kyk ook rond om te sien waar die bakkery-afdeling is. ʼn Vriendelike assistant kom nader en vra “Soek Meneer die drank? Dis langsaan by Pick n Pay Liquor”

By die betaalpunt wys ’n bejaarde man (ja-ja ek weet ek is ook een, maar dis anders) na my klubklere en vra uit oor die saamtrek. Na ʼn rukkie vra hy “Maar is daar darem iewers ook sulke rallies vir christene?” Ek wil eers vir hom verduidelik van al die Christen-klubs by die Buffalo, maar glimlag toe maar net dommerig.

Eintlik is so ʼn rally ʼn kleiner model van ons land se geweldige verskeidenheid. Daar is skatryk mense met motorfietse wat meer as ʼn miljoen kos en daar is sukkelaars wat raap en skraap om die wiele aan die draai te hou. Daar is mense wat motorfietse geblinddoek uitmekaar kan haal en weer aanmekaar kan sit en dan is daar ploerte soos ek wat net petrol en olie ingooi en bande pomp en mense moet betaal vir die uitmekaarhaal en aanmekaarsit.

Daar is ouens en vrouens wat van Vrydag tot Sondag sit en kuier en ander wat skaars sit dan spring hulle op en gaan ry ʼn draai. Dokters, tandartse, polisiemanne, werktuigkundiges, pensioenarisse, sakemanne, soldate, polisiemanne, boere en boerinne, helde en skurke – almal met een gemeenskaplike belangstelling – motorfietse. Almal is hemelsbreed anders, maar almal is daar dieselfde.

Mense praat van ʼn broederskap en dit klink na ʼn vreeslike cliché, maar kyk maar hoe dikwels hou een motorfietsryer by ʼn ander een langs die pad stil. Saterdagmiddag is ek moeg vir die geraas en gedreun van motorfietse wat by die kampeerterrein vir mekaar blaf en ek ry George toe om vir my dogter en skoonseun hallo te sê.

Op pad terug, net voor Groot Brakrivier, ry ’n motorfiets stadig aan die een kant van die besige pad. Die motorfietsryer se valhelm is oor sy een arm gehak. Ek trek af en wag tot hy by my kom. Ons kan nie juis praat nie, want hy is die heeltyd besig om die versneller oop te draai om die toere van sy motorfiets hoog te hou.

Vreemd, maar hy verduidleik toe dat die motorfiets, wat in ʼn gehawende toestand is, vrek as die toere te laag raak. Al hulp wat hy benodig is iemand om die versneller oop te hou sodat hy sy valhelm kan opsit. Ek maak so en besef die motorfiets vuur net op twee of drie van die vier silinders. Dit knetter en mis en poep, maar ek hou die versneller oop dat hy sy helm kan opsit.

Ons praat nie met mekaar nie, ons skreeu op mekaar, want die uitlaatstelsel kort ʼn knaldemper. Ek probeer sê van die silinders wat mis, maar hy knik net “Yes, I know, it will last till tomorrow,” skreeu hy terug.

Terwyl ek daar staan en sy toere opjaag en ons vir mekaar skreeu, kom daar ses of sewe motor- fietse verby en en elkeen veminder spoed en beduie of ons hulp benodig. Dit terwyl dosyne motors ongestoord verbyvlieg. Broederskap. Gelukkig was die man se nood net iemand om sy versneller oop te hou en nie iemand wat iets moes herstel nie, want dan was ons vandag nog langs die pad.