Deur Arno Greyling
DIE motorwêreld is maar ’n snaakse plek. Produkte is tot ’n groot mate dieselfde, en tog ook nie. Dié een het bietjie meer krag, dáárdie een is slim genoeg om jou te waarsku wanneer “jou oë te veel knip” wat ’n aanduiding is dat die moegheid besig is om jou as bestuurder in te haal.
Van hul parkeer hulself en ons kan reeds uitsien na motors in die nabye toekoms wat sonder enige menslike insette jou van punt A na punt B gaan neem. Terloops, daar word gereken dat die komende geslag Amerikaners nie meer rybewyse sal hê nie. Bestuurderlose motors sal as vervoer dien. Ons weet reeds dat dinge in Afrika bietjie stadiger vorder, maar kom sal ons ook daar kom.
Die punt waarby ek wil kom, is dat ontwikkeling nou sneller as ooit plaasvind. Vervaardigers is angstig om by te hou, want anders gaan van hulle nie oorleef nie. En daarin lê die antwoord vir die baie oornames tans van een vervaardiger deur ’n ander.
Die mees onlangse gevalle is Peugeot wat Citroën gekoop het en net daarna is aangekondig dat die nuutgevormde groep ook vir Opel by die Duitsers gaan koop. Die Renault-Nissan-groep (ek weet nie hoeveel lesers weet dat dit eintlik Renault is wat Nissan uitgekoop het nie?) het Mitsubishi nou onlangs bekom en Tata is die trotse eienaars van die Jaguar-handelsmerk.
Sien, dit is baie goedkoper om oornames te doen en sodoende tegnologie te “koop”, as om dit self te doen. En natuurlik spaar dit baie tyd; en tyd is geld.
Groot was die verbasing onlangs toe Mercedes aankondig dat dié reus nou die bakkiemark gaan betree. Die ope geheim is dat die bakkie eintlik grotendeels ’n Nissan Navara in hart en ruggraat is – moontlik gemaak deur ’n ooreenkoms tussen die twee groepe – en siedaar, Mercedes kan sy bekende driester opsit en verder sakke vol geld maak met sy “Mercedes’’-bakkie!
En natuurlik speel die ekonomie van skaal ook ’n reuse rol met die oornames. Hoe meer die tegnologie benut kan word (dus hoe meer van die produk vervaardig in die mark kan kom), hoe goedkoper per eenheid is die vervaardigingskoste. Ek lees juis verlede week in Die Burger dat BMW al reeds meer as 10 jaar die vervaardiger is van al Peugeot se 1.6 enjins! Ek wed jou dat daar sommer nog baie lesers van Die Hoorn is wat gereken het dat Peugeot onbetroubaar en tipies Fransman ook temperamenteel van geaardheid is, maar hoeka is dit die Duitsers wat die grootste gros Peugeots op die pad woema gee.
En nou is Opel ook in die Peugeot-Citroënstal. General Motors kon nooit eintlik die fantastiese handelsmerk tot sy reg laat kom nie. Persoonlik het ek ’n baie sagte plekkie vir Opel. In die vroeë sewentigs het ek al te heerlik as pienkvoet saam met Oupa Danie deur die strate van Britstown gerits in sy Opel Kadett. Goeie herinneringe van ’n puik motor wat vanjaar in sy moderne gewaad (die Opel Astra) as Motor van die Jaar in Suid- Afrika en as die Europese Motor van die Jaar (2016) aangewys is. Ek hoop van harte dat met hernude posisiëring en bemarkingsfokus ook hierdie handelsmerk sy regmatige plek sal inneem tussen die grotes in die bisarre wêreld van motorhandel.
Groetnis tot ’n volgende keer …