Deur Garnett Wicomb
DIE aansoek van ’n man van Bongolethu om teen sy vonnis van 15 jaar vir verkragting te appelleer is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys.
Die 27-jarige Luzuko Tshukulwane wat aan verkragting en huisbraak met die opset om ’n misdaad onbekend aan die staat te pleeg, skuldig bevind is, het op 26 Maart 2016 by ’n huis in Vuyanistraat, Bongolethu, ingebreek en ’n 30-jarige vrou verkrag. Tshukulwane het onskuldig gepleit op beide klagtes.
Volgens hom het die vrou die huis se deur vir hom oopgemaak. Terwyl hy gewag het vir sy eie meisie het sy by hom in die bed geklim waarna hulle met instemming geslagsgemeenskap gehad het.
Streeklanddros Daniel Boks het Tshukulwane se weergawe as leuenagtig verwerp en sy aansoek om teen die vonnis te appelleer van die hand gewys omdat die hof van mening is dat ’n ander hof nie tot ’n ander bevinding en die oplê van ’n ligter vonnis sal kom nie.
Die vrou het tydens die verhoor getuig dat sy na die voorval “net wou dronk wees”.
Die twee aanklagte is vir vonnisdoeleindes saamgeneem.
Tshukulwane is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.