Wie in glashuise woon, moenie met klippe gooi nie

Deur Poem Mooney

Moenie ’n ander veroordeel oor foute waaraan jy jouself skuldig maak nie

Ek het besluit om vanmôre te skryf oor kultuurgroepe, soos karretjiemense, sigeuners, bedelaars en boemelaars.

Ek is so spyt dat Ousie Roeslyn gaan kuier het in die Tankwa Karoo – sy en Kate Morgan. Hulle sou my beslis kon help om te bevestig of die bovermelde groepe as kultuurgroep geklassifiseer kon word.

Hierdie gebrek aan my verstaan, glo ek, sou Ousie Roeslyn “vetterig” uitgelê het. Dus moes ek maar delf om seker te maak hoe ek hierdie mense moes tipeer.

Die karretjiemense op die uitspannings ons land se paaie, en sigeuners kon ek maklik karakteriseer, want die karretjiemense vanweë hulle geaardheid is vryblywende Khoi-San Afrikane. Nasate wat al baie sonne, mane, blink sterre en planete aan die hemelruim beleef het.

Net soos sigeuners, swerf hulle. Net waar hulle kamp opslaan, bly hulle. Gesteld op hulle onafhanklikheid.
Die sigeuners het ek vasgestel is ook lede van ’n rondswerwende groep – iewers in Europa, donkerbruin van kleur met blink, swart hare wat ’n eie taal praat en eie gewoontes het, eintlik ’n Hongaarse kultuurgroep wat kamplewe en hul eie, lewendige, ritmiese musiek geniet.

Boemelaars en bedelaars het my nader aan die huis gebring. Ek was in Standerd 4 (vandag Graad 6), toe ons hierdie gedig by ons oud-skoolhoof, Meester Lyners by DRC skool in Jubileestraat geleer het, met die titel: “Bedelaars in die koue reënweer”.

Miskien moet ek ’n paar grepe uit die gedig hier aanhaal:
“Gewooonlik dwaal hul deur die stad se strate soos die lope wat ’n verre monding soek deur woestenye, wyd en droog – verlate.”

Hierdie gedig het my meegevoer, want afgelei net soos die karretjiemense en die sigeuners, moes hulle karaktervolle mense gewees het. Hoe hulle geleef het, hoe hulle gelyk het, die omstandighede waaronder hulle geleef het, byna soos avonturiers.

Dit het by my ’n respek vir hierdie bedelaars laat ontwikkel.

“Maar nou die hemellaag is soos ’n doek geweef uit newels, rus hul met die wind en blare op banke in publieke parke, waar die silwer druppels van die blommetrosse drup,
in koue, bushalte huise, op banke van trem terminusse, hande in die broeksak, grys pet soos soms oue watervoëls langs die damme dut, in skemerdrome weggesink.”

Hierdie tipe bedelaars het ’n karaktervolle lewe gelei, net soos die eensame oues van dae, in die Kaapse tuine, wat genot put deur wantrouige duiwe te voer met neute en broodkrummels.

Ek sukkel nog om die boemelaars en bedelaars wat oor ons hele land versprei is, te verstaan, en hier moet ’n mens versigtig trap in die pietersielie, want daar gaan ’n groter skool van denkers wees wat sal sê: “Kyk nogal vir hom.”

Dit is waarom ek Ousie Roeslyn so mis by hier-die gesprek, want sy sou gesê het: “Gert, ek kan mos sien jy is nie besig om te oordeel nie. Spoeg uit die vullis wat op jou hart lê. Jy weet tog, mense wat in glashuise woon, mag nie klippe gooi nie.”

Oor die boemelaars in elke voorstad van die groot stede en plattelandse dorpe, het ek die volgende gesê in een van my gedigte:

“Ek kry die mense bitter jammer – die mans en vroue wat bedags in toue in elke dorp en voorstad in vullisdromme krap. Hulle soek en snuffel soos aasdiere, skrop soos tarentale soggens en saans en snags soos uile boemel hulle deur die strate op soek na oorskietsels.”

Ek het onwillekeurig gedink aan die “Goue kring” van Uys Krige. Eintlik is dit ’n legende in vier bedrywe, deur die genoemde skrywer.

In die derde bedryf is daar ’n gesprek tussen ’n Biskop en ’n bedelaar wat om ’n aalmoes vra.

Die Biskop wat hooghartig verduidelik dat hy slegs een keer per jaar sy kudde kom besoek in Candemar.

Die Biskop wat nie kon verstaan hoe ’n jongman in die fleur van sy lewe ’n aalmoes vra en dan die ‘beskuldiging’: “Waarom werk hy nie?” Eintlik ’n beskuldigende vraag – en dan na ’n lang gesprek vanuit die Biskop se siening, die bedelaar se antwoord: “Ek het u om ’n aalmoes gevra, nie ’n les in die Christelike deugde nie.”

Onmiddelik het ek intens verlang na Ousie Roeslyn en wat sy hieroor te sê sou gehad het.

Ek sou nie graag in die Biskop se skoene wou gestaan het nie en dit voor Ousie se vlymskerp tong oor die ongeprate teregwysing van die Bedelaar.

Vir Ousie Roeslyn sou ek gevra het: “En nou, Ousie, wat sê die mense, Ousie, wat sê hulle oor hierdie fenomeen, wat niemand kan ontken nie. ’n Fenomeen wat mense oor hande toeneem in die nuwe Suid-Afrika?”

Meskien sou sy gesê het: “Nee, Gert, ek is oor hierdie verskynsel skoon toegeslaan op die oom-blik, maar wat sê jy?”

Miskien sou ek iets gesê het soos dit. Sonder om veroordelend te wees: “Ek kry die mense jammer wat so geword het. Die mans en die vroue wat in toue rondom vullishouers skerm en skater- krap, gryp en buit vergader. Net soos die meeue, uile en die kraaie soggens en saans. (Deur Poem Mooney)