Briewe van lesers: 6 Julie 2023

Ons sê dankie

Op 1 Januarie 1973 het ek as jong dokter by Drs Piet du Toit en Willem Roller aangesluit. Oudtshoorn se gemeenskap het ons jong gesin met ope arms ontvang.

Enige jong dokter kan maar wens om soveel by die ervare dokters van Oudtshoorn te kon leer, veral in die jare toe mediese spesialiste baie skaars was.

Die hitte en muskiete was vir ons bietjie erg, maar ons het gou daaraan gewoond geraak. Daardie jare het dokters nog pakke klere en dasse gedra en moes ons maar later in die dag die baadjie uittrek en moue oprol. Van lugreëling was daar nie sprake nie, darem hier-en-daar ’n waaier.

Ons het gou deel geword van die gemeenskap en wil graag een en almal bedank wat ons ondersteun het in ons goeie en ons hartseer tye. Hier kon ons groei tot waar ons vandag is.

Nou, na 50 jaar, wil ons dankie sê aan Oudtshoorn met sy unieke inwoners wat ons verblyf so aangenaam gemaak het.

Dankie aan pasiënte, kollegas, vriende en alle Oudtshoorniete wat ons paaie gekruis het. Ons gaan julle mis.

Ons seun boer in Groot Brakrivier en ons het besluit om nader aan hom te gaan aftree.

Ons wens die dorp en sy inwoners net die beste toe vir die toekoms. Ons is saam met julle dankbaar vir die goeie reëns wat ons damme volgemaak het.

In ons harte sal ons altyd Oudtshoorniete bly.
– Hentie en Ronelle Louw

Welgedaan Didi Diedrich!

’n Paar weke gelede het ’n toeris van Brisbane, Australië hier in Oudtshoorn kom kuier.

Leslie Smith het by The Featherbed tuis gegaan. Soos die noodlot dit soms wil hê, breek sy haar arm en gewrig en moet sy ’n paar van haar kosbare vakansie-dae in die MediClinic deurbring.

Sy skryf die volgende: “The owner, Didi Diedrich, was unbelievable. She took me to the Clinic and spent three hours checking me in. She visited me often, looked after my 91 year old mom and gave us a couple of extra nights’ accommodation, while I arranged for family help from Cape Town. I have never experienced such care, concern and help before.”

Aangesien Leslie ’n Rotariër is, het sy haar brief na die Oudtshoorn Rotariërklub aangestuur.

In Brisbane ondersteun die klub waaraan Leslie behoort die ‘Pride of Work’ projek waar individue wat diens van uitstaande gehalte lewer, erkenning ontvang.

’n Lid van die Oudtshoorn-klub het by Didi gaan kuier om haar persoonlik te bedank vir die moeite, ondersteuning en liefde wat sy aan Leslie betoon het. In ’n wêreld waar goeie dienslewering dikwels onderskat word, bewys Didi weereens watter geweldige indruk dit op mense maak!
Welgedaan Didi Diedrich!
– Hannelie Rix, Sekretaresse, Oudtshoorn Rotariërklub

Paaie

VIR die afgelope 13 jaar bly ons in Oudtshoorn. Ons het al in die dorp in Noord, Wesbank en selfs Bergsig op ’n keer gewoon.

Tans bly ons op ’n plaas nie te ver uit die dorp uit nie.

Die kwessie van slaggate is pal op sosiale media en op die stadium ’n onderwerp wat seker holrug gery is, en nog verder al hoe holler gery gaan raak, omdat elkeen in vandag se dae, en ons land Vryheid van Spraak het.

Ek verstaan mense se bekommernisse, ja…almal betaal duur belasting en dit is die munisipaliteit se werk, maar ons sit met dieselfde probleem op die grondpaaie.

Selfs die bakkies loop deur onder sinkplate, gate en klippe wat oral uitsteek.

Paaie wat weggespoel het en nog soveel meer.

Hierdie paaie is egter die verantwoordelikheid van Nasionale paaie en nie Oudtshoorn Munisipaliteit nie.

Nou wonder ek, het enigeen gestop en gewonder dat die rede waarom paaie tans so lyk is oor die bogemiddelde reënval wat die afgelope tyd in en om Oudtshoorn geval het.

Hoeveel sonskyndae was daar eintlik beskikbaar vir die herstel van paaie. Daar is ook net soveel mense, werknemers en masjinerie beskikbaar om die werk te doen.

Op die einde van die dag is hulle ook net mense, en geeneen is perfek nie…ons almal word kwaad, selfs moedeloos en moeg, maar daar is ook net soveel ure in ’n dag.

Dit vat een negatiewe kommentaar, foto, boodskap of uitlating en dit draai soveel mense se gesindheid.

Waarom eerder nie mekaar ondersteun, bemoedig en opbeur nie – ons sit tans in ’n tyd waar almal op verskillende vlakke swaarkry, hetsy emosioneel, finansieel of op enige ander vlak.

Dalk is een positiewe woord soveel meer werd as daai negatiewe inskrywing op sosiale media wat net skade doen, mense kwaad maak en atmosfere in ons eie huise skep, dat ons soms onbewustelik dit op ons geliefdes uithaal.

Die Bybel sê – sit ’n wag voor jou mond, en ek wil dit een stappie verder neem en sê – sit ’n wag voor jou vingers wat daai sosiale media inskrywings tik.

Saamwerk bereik baie meer as afbreek en baklei.

Dankie aan plaaslike besighede soos Seeff wat net besluit het dat die koop van sakkies teer hulle nie gaan keer om ’n daadwerklike verskil te maak nie.

Dalk help die slaggate dat motorbestuurders stadiger ry, en die pad veiliger maak vir ander padverbrui-kers en ons vir ’n slag opkyk en die mooi dorp waarin ons woon raaksien.
– Trots om saam te werk