Wie het vir Ma begrawe – en waar?

Deur Poem Mooney

Suid-Afrika het ’n geskiedenis van vele merkwaardige gebeurtenisse. Met die herdenking van ons 27ste verjaarsdag is dit tyd vir nabetragting. Dan dink ek aan die die veelbewoë geskiedenis en die lewe van Koos Sas, ’n boorling van Touwsrivier.

Die tragiese elemente in die storie het my teruggelei na die rigtingge­wen­de besluit van die Nasionale Khoi­san Raadplegende Konferensie oor beendere oorsee en hier te lande.

Daarom was die terugkeer van Sarah Baartman se oorskot na Suid-Afrika so ’n opspraakwekende gebeurtenis.

Diane Ferrus se beroemde gedig oor Sara Baartman (I have come to take you home) en die besluit van die Khoisan Raadplegende Konferensie was van die talle sleutels wat vrye toegang tot geslote deure vir die Khoi- en Sanmense gegee het, asook die geleentheid om open­lik oor inheemse mense se geskie­denis (“people’s history”) te gesels, en ’n nuwe pad na selfbeskikking aan te dui.

Die herbegrafnis van Klaas en Trooi Pienaar in die Noord-Kaap en van die talle beendere in museums het gevolg. Dié ontwaking het oorgespoel na alle provinsies in ons land en hierdie opdrag is nougeset in die Suid-Kaap aangespreek.

Hierdie waarheid het homself voor­verlede Sondag (18 April 2021) op Montagu bewys, die dag toe die skedel van Koos Sas begrawe is.

Dit het my onwilleurig laat dink aan die pogings van ’n klompie kleinsiel­i­ge, wysneusige amptenare en ’n klomp kunsmatige kansvatters, ’n boel politie­ke kulkunstenaars en nagemaak­te en selfgemaakte kultuurleiers om ’n soort­gelyke aksie te laat ontspoor. Dié resep se bestanddele: ’n Museum, ’n skool en “kwasi-kultuur-marionette”.

Koos Sas se herbegrafnis het een ding ontbloot: Die afgryse van die ver­lede is op ’n sinvolle en versoenende manier aangespreek. Maar op Oudts­hoorn was daar toutrekkery oor waar beendere wat in 1965 op die bouterrein van die Hoërskool Oudts­hoorn uitgegrawe is, herbegrawe moes word. Ons wonder steeds waar die beendere wel herbegrawe is.

Ons is verseker dat dit in die Kango sou wees, naby die Raubenheimerdam. Iewers in die Kango, iewers tussen hemel en aarde.

Anders as in die geval van Montagu, waar die Hessekwa KhoiSan-afstammelinge onder leierskap van ds Reggie Boesak ’n pragtige voorbeeld gestel het, is met die nodige piëteit – in same­werking met die Montagu Museum – eer en hulde gebring aan Koos Sas.

Koos Sas kon in die reservaat in Donkerkloof eindelik rus vind. Onder die gewelf van rotse het die prosessie halt geroep en die kissie met die skedel is verlaas gereinig met inheemse plante onder die geklank van die koedoeho­ring.

Hoewel ek vol lof is vir wat op Montagu gebeur het, het ek ’n wrewel oor wat op Oudtshoorn gebeur het, met die enkele beendere wat ons ook graag op ’n waardige wyse wou herbegrawe.

Wat hier gebeur het, was ’n anderse manier van grafskending omdat die been­dere sonder die nodige Khoisan-rituele, sonder die erkende plaaslike Khoisan-strukture begrawe is. Sê my gou, watter familie laat ander mense hulle geliefdes se begrafnisse reël?

Tydens die herbegrafnis hier is die beendere begrawe deur mense wat geen band, geen emosionele lojaliteit en geen wettige verbintenis met die Khoisan het nie.

Anders as op Montagu, anders as op Hankey (Sarah Baartman), kies Oudts­hoorn om sito-sito met beendere om te gaan. Volgende keer as ek weer van enige vorm van grafskending lees, sal ek swyg, want ek weet dit maak seer.