‘Fix and Learn’-projek maak verskil in lewens, en beursies

Cobus Fredericks (links) en Wade Ford van Trapsuut-jies Projekte by een van Fredericks se nuwe krane. Trapsuutjies wil met hul “Fix and Learn”-projek in die Groter Oudtshoorn nie net waterverlies en die gepaard-gaande finansiële verlies aanspreek nie, maar ook die gemeenskap bewus maak van hoe belangrik waterbesparing is. Lees meer op bl 5. Foto: Stefan Skapie Goosen

Hierdie grafiek toon die verskil in waterverbruik van 184 “hoë-verbruik”- huishoudings, twee maande voor (in blou) en twee maande nadat (in oranje) Trapsuutjies Projekte ingegryp het. (Grafiek verskaf)

TRAPSUUTJIESPROJEKTE op Oudts­hoorn se “Fix and Learn”-projek beoog nie net om waterverlies en die gepaardgaande finansiële verlies daarvan aan te spreek nie, maar het ook die oog op bewusmaking oor waterbesparing binne die Groter Oudts­hoorn se gemeenskap.

Die projek, sedert 2018 op De Rust en Dysselsdorp en deesdae ook op Oudtshoorn, het reeds derduisdende kiloliter water asook derduisende rande gespaar deur die identifisering en herstel van pypbreuke en lekkasies in wonings.

Dit is ondersteun deur opvoedkundige sessies waar kwessies soos waterverlies, watervermorsing en die nagevolge daarvan aan verbruikers oorgedra word.

Wade Ford, lid van dieTrapsuut­jiesspan, sê die projek in samewer­king met die Oudtshoorn Muni­- sipaliteit het groot veranderinge in mense se lewens gebring.

Dit is hy en sy klein span van drie mense wat nie net lekkasies en pypbreuke regmaak nie, maar wat met hul driemaandelikse opvolgbesoeke ervaar hoe die projek lewens aanraak.

Die span identifiseer ook “hoë-verbruik”-huishoudings, en skenk aandag aan moontlike probleme by hierdie huishoudings.

“Om die ‘hoe’ en ‘hoekom’ van waterbesparing oor te dra is slegs een been van die projek,” sê Ford. “Die praktiese waterbesparing wat daar­mee saamgaan, is van uiterste belang. Mens sien ook in die proses hoe mense se lewens opgehef word, en hoe ’n klein bietjie menswaardigheid weer tot hul bestaan bygevoeg word, en dit is net so belangrik soos die waterbesparing.”

Hy sê in baie gevalle het huisgesinne wat hulle besoek, vir jare nie water gehad nie of slegs baie beperkte toegang tot water gehad weens foutiewe watertoevoerpype of die diefstal of beskadiging van pype.

“Dit is nie ’n projek waar ons mense “spoonfeed” en dinge net vir hulle regmaak nie; ons maak hulle betrokke by die proses en maak seker hulle neem verantwoordelikheid vir hul waterverbruik en verdere instandhouding,” voeg Ford by.

Colin Coetzee van Avonstraat in Rosevalley sê voor Trapsuutjies ingegryp het, het hy en sy gesin net een werkende kraan en ’n toilet wat lek gehad. Hul waterrekening was ook baie hoog.

“Ek en my vrou het al gebid daar­oor, want ons het nie geweet watter kant toe met die hoë waterrekeninge nie.

Na hulle kom help het, het ons nou drie krane en die toilet lek nie meer 24 uur per dag nie. Hulle het regrig baie gehelp. As Wade en sy span met sy wit bakkie hier stop, noem ons hulle ons ‘wit engel op wiele’,” vertel Coetzee met ’n breë glimlag.

Coetzee sê hy en sy gesin is nou baie meer bewus van waterbesparing.

Vir Cobus Fredericks van Janua­riestraat in Bongolethu was sy familie se kommer oor water die afgelope vier jaar na een oproep aan Trapsuut­jies byna opgelos. Al toegang tot water wat Fredericks en sy gesin gehad het, was ’n waterpyp wat afgebreek is en met ’n klip verstop is om die konstante stroom te probeer keer.

“Ons het geen toiletbak (cistern) of krane in die huis gehad nie, maar toe kom help Trapsuutjies ons. Dit voel asof ek in die hemel is! Dit maak ’n groot verandering by die huis; ons is bitter dankbaar. Ons het so lanklaas werkende krane gehad, ek vergeet nog soms ons het nou weer krane,” skerts hy, heel ingenome met sy nuwe krane.

Fredericks het gesê dit voel selfs vreemd om weer die toilet te kon spoel, want voorheen moes water aangedra word om dit te doen.

“En ons is nou veral baie spaarsamig met ons kosbare water,” voeg hy by.

Met alle lekkasies of pypbreuke wat deur Trapsuutjies reggemaak word, word data voor en na hul werksaamhede opgeteken om rekord te hou.

Vir meer inligting oor die projek, skakel Trapsuutjies by 065 801 4810. (Deur Stefan Skapie Goosen)