Groot eerbewys vir Yvonne

Yvonne McKay van SWD Tweekamp. (Foto verskaf)

DIE tweekamp-gemeenskap op Oudtshoorn en ook in die Eden-omgewing is baie trots op Yvonne McKay nadat sy tydens die afgelope algemene jaarvergadering van SA Tweekamp die hoogste toekenning ontvang het in die organisasie, die Honoris Causa.

Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, is McKay al sedert 1992 betrokke by SWD (Eden) Tweekamp, en het sy ’n onuitwisbare bydrae, nie net tot die administrasie nie, maar ook tot die uitbouing van tweekamp in die gebied gemaak.

McKay was 15 jaar lank die sekretaris-tesourier en toe die poste geskei het, het sy die tesourierskap oorgeneem en doen dit steeds.

“Oor al die jare heen het Eden Tweekamp nog nooit iets anders as ’n skoon oudit gekry nie – voorwaar ’n unieke prestasie,” sê Van der Walt.

As spanbestuurder het McKay volgens Van der Walt ook al ’n “instelling” geword, en mentor sy tans die jonger geslag spanbestuurders.

“In die dae toe dit nog maar finansieël broekskeur gegaan het, het sy ingestaan as ‘moeder’ en die span se kosvoorbereiding hanteer. Niks was ooit te veel vir haar nie en sy bied steeds haar hulp aan.

“Sy het ook in die reëlingskomitee van onder meer SA2020 en SA2021 gedien, en baie jare ook die Highgate Interprovinsiale Byeenkoms help reël,” vertel Van der Walt.

Van der Walt sê McKay was oor die jare “beampte, trooster, versorger en slaansak” vir baie ouers se grimmigheid en soms blatante onbeskoftheid.

“Dit het sy altyd met waardigheid hanteer.

“Al haar kinders, en ook haar man, het sy ook betrokke gekry by tweekamp,” voeg Van der Walt by.