Deur Johan Strasheim
4 Februarie 1999. Ek vlieg van Wonderboom Lughawe na Skukuza toe met my Malibu ZS-NTH.
Ek moet iemand daar gaan haal en terugbring Pretoria toe. Ek is alleen in die vliegtuig en sit rustig met my eie gedagtes op 19000 voet bo seevlak – en dié dag in die wolke. Die groot Lycoming-enjin dreun betroubaar voor in die neus en ek bekyk die instrumente rustig van hoek tot kant, want buite is dit ’n grys-wit massa in alle rigtings met net my instrumente wat aandui waar is bo en onder. Die radar wys geen storms of ander lastige dinge in die wolke nie en ek wag vir die Laeveld-lugruim waar ek van frekwensie moet verander.
Voor ek by die Laeveld-streep op die GPS kom, roep Johannesburg se lugverkeerbeheerder my en sê my aan om oor te skakel na “Lowveld” op die een of ander frekwensie. Ek maak so, en protokol sê dat jy op die nuwe frekwensie moet aanmeld.
Ek maak toe so…
“Lowveld, November Tango Hotel, good afternoon,” en die gesprek gaan aan met die gebruiklike formaliteite. Ek word aangesê om weer aan te meld sodra ek met my daling wil begin – die sogenaamde “top of descent”. Geen probleem nie. So ’n minuut later roep Laeveld my terug en sê ’n loods in ’n Impala – roepsein “Casper” (as ek reg onthou) – is op sy laaste vlug want die ou verlaat die lugmag dié dag, en “Casper” wil graag vir oulaas ’n onderskepping doen. Sal ek omgee om die teiken te wees.
Natuurlik nie! Die probleem is – ek sit “solid” in die wolke en kan niks sien nie! Die beheerder laat my deurentyd weet waar “Casper” is… “Casper, target is three miles and closing …” en so aan. Ek sê vir die beheerder dat ek graag sou wou sien wat aangaan waarna hy vir my sê ek moenie bekommerd wees nie, ek sal uit die wolke wees in 30 sekondes. Presies net so.
Ek skiet uit ’n vertikale muur van wolke uit in die helderste sonlig in en die volgende oomblik is “Casper” op my linkervlerk in formasie. Die Impala sit so ’n paar sekondes daar. “Casper” salueer my en draai links en weg terug Hoedspruit toe. Dit was amper onwerklik mooi en ek het sowaar nie ’n kamera by my gehad nie. Almal moes maar my woord vat daarvoor.
Op 16 September 2008 is ek – weer alleen – hierdie keer met die Aerostar “op pad” van Beira in Mosambiek af Polokwane toe, hierdie keer op 10500 voet bo seevlak. Dit is mooiweer en by Crooks Corner praat jy weer met die Suid-Afrikaanse lugbeheerpersoneel – weer “Lowveld”. Die Krugerwildtuin en Limpopo se bosveld gly stelselmatig onder my deur. Die lug is baie skoon en sigbaarheid bykans onbeperk. Dit is ’n mooi dag.
Gewoonlik los die lugverkeerbeheer jou uit op dié been totdat jy wil daal anderkant die platorand daar naby Duiwelskloof en Tzaneen. Ek word onver- wags geroep in die omgewing van Giyani. “Pappa Delta November, Lowveld… Request.” Hulle wil my iets vra. Ek antwoord soos gebruiklik:
“Pappa Delta November, go ahead,” en die gesprek gaan voort oor die radio. Daar is ’n opleidingsvliegtuig – van Makhado Lugmagbasis af – wat my wil “onderskep” as ’n oefening. Sowaar weer dieselfde ding as jare gelede!
Natuurlik stem ek weer in. Ek krap koorsagtig in my vliegtas en kry sowaar ’n klein digitale kamera daarin. Hierdie keer mis ek dit nie weer nie!
Die tweesitplek Hawk kom sit binne minute op my linkervlerk in formasie vir ’n wyle. Ek neem foto’s en geniet die oomblik. Vir ’n ou wat vlieg is dit nogal ’n “cool” gebeurtenis. Ek wens ek kon van my mense saam hê om dit te ervaar.
Oudergewoonte salueer die twee gesiglose manne my vanagter hulle swart gesigskerms, gee gas en breek sommer vertikaal weg die hoogtes in. Ek word bedank deur die Laeveld-lugverkeerbeheer. Ek noem aan hom dat ek foto’s geneem het daarvan en belowe om foto’s te stuur.
Ek was sowaar weer alleen in die vliegtuig toe dit vir die tweede keer met my gebeur, maar hierdie keer kon ek foto’s neem van die ontmoeting in die lugruim. Dit het twee keer met my gebeur. Wat is die kans?

’n Foto van ’n “onderskepping” waaroor in dié rubriek geskryf word.