Sleutelman van KKNK sterf
Dit is met leedwese dat ek verlede week verneem het van die heengaan van Andrew Marais.
Hy was ’n ere-direkteur en ook by geleentheid waarnemende voorsitter van die KKNK. Hy het ’n sleutelrol gespeel in die oorreding van die destydse Naspers om saadgeld beskikbaar te maak om die KKNK tot stand te bring. Ons paaie het gekruis as gevolg van ons gemeenskaplike belangstelling in Afrikaans en die kunste.
Hy het ’n massiewe bydrae gelewer tot die inklusiewe herontdekking en hervestiging van Afrikaans in al sy va-riëteite en dialekte. By geleentheid het hy gesê: “Die fees moet ’n hart hê, waarin sy tema energiek klop en die hart moet ruim genoeg wees om almal wat Afrikaans koester te akkommo-deer. Die fees moet nie verval in ’n orgie van nostalgie oor die verlede, en verwyte oor die hede nie.”
Hy was geesdriftig, het oor ’n werk-etiek beskik wat aansteeklik was en ’n gedeelde visie wat hy binne die grense van die KKNK ten toon gestel het. Sodoende het hy ’n bydrae gelewer tot die nuwe skeppende wonder van Afrikaans.
Hy was ferm, en was iemand wat kon groot droom, iemand met ’n buitensporige verwagting en iemand met onuitputlike energie.
Die voetspoor wat hy in die KKNK agterlaat, strek baie verder as die grense van Oudtshoorn. Die impak van sy bydrae rimpel eintlik deur die hele land. Hy het deur sy bydrae bewys dat Afrikaans die verdeeldheid en onmin van die verlede kon ontkom en dat die taal voortaan ’n bevrydende rol sou speel in die vereniging van almal wie die taal praat en koester.
Hy het die aktuele kwessies voor hande en die bevrydingsoomblikke met die mense met wie hy saamgewerk het gedeel.
Sy natuur van omgee, beskerming, inspirasie, en sy nalatenskap stel ons nablywendes in staat om berusting en tevredenheid, te vind.
Die heengaan van iemand wat jy vir soveel jare geken het, los die nablywendes altyd in ’n staat van verwarring en verslaentheid.
Mag sy siel in vrede rus.
– DA Piedt, Oudtshoorn
Nie meer veilig
Waar is die mense wat in beheer van ons dag- en nagskuilings is?
U het belowe dat u die straatkinders van ons strate sal af hou!
U word betaal vir dienste gelewer – asseblief – doen soos u belowe het.
Ons senior burgers voel nie meer veilig op straat nie. Ons sal ook graag meer polisie tussen mense per voet wil sien beweeg – nie net verby jaag in polisievoertuie nie.
Die vraag is: kan hul nog ’n skelm inhardloop?
– Cecile Ungerer, Oudtshoorn
Kinders hoort nie met messe in die openbaar
Na aanleiding van ’n berig in Die Hoorn van 15 Februarie 2018 op bladsy 5: “Straatkinders met messe raak oproerig; man in hof na hy twee skote skiet by museum.”
Ek haal aan uit die berig: “ ’n Man het in die landdroshof verskyn op aanklag van die afvuur van ’n vuurwapen, asook poging tot moord.” En verder: “Iwe Kruger is deur sowat 20 straatkinders genader. Die kinders het oproerig geraak en hulle het messe by hulle gehad.”
Volgens vereverkopers by die museum het kinders probeer om goedere uit die man se bakkie te steel. “Daar was baie kinders en ons het gesien hulle het messe.”
Kruger is R1000 borg toegestaan. Die saak sal weer op 16 Maart voortgesit word.
Nou vra ek: Wat kon die man anders doen? Ek dink die polisie moet die kinders in hegtenis neem. Hulle hoort nie messe in die openbaar te hê en mense te dreig of te besteel nie.
Dit kan dieselfde jong klomp wees wat my op die 16de omstreeks 12:00 van R100 beroof het. Hulle was veronderstel om op skool te wees.
Ek het dit by die polisie gaan aanmeld – op die sypaadjie geparkeer omdat daar nie parkeerplek was nie en die hek was toe – R500 boete gekry.
Eish! R600 skade!
– Fanie Schoeman, Ladismith