Wanneer is genoeg, uiteindelik genoeg?

Deur Tania Smit

So wanneer is genoeg uiteindelik genoeg?
As jou rieme deurgeloop is en jou tong hang op die grond? Of jou woorde is op, jou knieë deurgekruip, jou hart uitgedop, jou oë al reg agteroor om­gerol tot weer voor, van kannie-meer-nie, is genoeg dan genoeg?

En as jy nog ’n knertsie oor het om te gee, moet jy nog harder en verder probeer, of mag jy uiteindelik gaan, oorgee, opstaan, smeek, sê hoe jy voel, huil, wegloop, bly?

Genoeg is nie genoeg as jy nie meer een treë voor die ander kan gee nie, want mens kan altyd nog bietjie verder. Dis maar net hoe die groot Skepper ons gemaak het… vir oorlewing.

Genoeg is genoeg die dag as jy wéét dat jy weet. Dis al.

En wonder is nie weet nie.

Nét weet is weet.

Weet het ’n manier hoe dit kom sit in jou lyf, dit voel soos geen ander gevoelte nie. Dit voel soos stilte, nie soos oorlog nie. Dit voel soos krag, nie soos moeg nie. Dit voel soos opstaan, nie soos gaan lê nie. Dit voel soos berusting, nie soos vertwyfeling nie.

Dit voel soos ’n pilaar, nie soos ’n brander nie. En dit voel lig, nie swaar nie.

Weet is die laaste druppel in die volste emmer van genoeg. En dis vorentoe, nooit weer agtertoe nie.

En daardie dag van jou weet sal jy met ’n sagte stem hoef te praat, en jy sal duidelik gehoor word. Want jou waar­heid sal die pad soos die Rooi See voor jou oopkloof. En jy sal jou ken kan lig, en daai ding doen. Uiteindelik. Want weet voel soos dapper, meeste van alles voel weet soos dapper.

Wanneer jy uiteindelik met jou Weet voor jou Wonder kan gaan staan, en met jou Dapper voor jou Bang, daardie dag sal die dag wees wanneer genoeg uiteindelik vir jou genoeg sal wees.