Ek het vanmôre vroeg wakker geskrik en soos gewoonlik die ketel aangeskakel met die doel om vir Ousie Roeslyn koffie te maak. Ek het vir ons elkeen ’n kaas en tamatie toebroodjie voorgesit. Die tuisgebakte brood wat Netta Buis gebak het, het my byvoorbaat herinner aan ’n lekker eetkuiertjie saam met my eie betroubare klankbord.
Ousie Roeslyn het die vorige aand gebel om te vra of sy mag oorkom, omdat sy ’n swaar saak wou deel. Die deurklokkie het skril gelui en toe ek oopmaak, toe staan sy daar met ’n breë glimlag. “Môre Gert”, het sy gul gegroet.
Ek het haar binne genooi en toe sy inkom, het ek onmiddelik geweet hier kom ’n ding. Die donker kringe om haar oë het verraai dat sy die vorige nag nie ’n oog toegehad het nie.
“Gert”, het sy begin. “Ek het die hele nag wakker gelê. Ek het jou digbundel gelees, asook die rou kopieë van die bundel waaraan jy huidiglik werk.”
“Ek kan dit sien, Ousie”, het ek ewe kalm probeer om haar op koers te kry. “Wat is dit wat jou so vroeg hiernatoe gejaag het?”
“Gert,” was haar antwoord, “ek het myself voorgeneem om met jou te gesels oor die owerhede en die manier waarop hulle hul lywe rondgooi. Dié mense, Gert, of dit nou plaaslik, provinsiaal of nasionaal is, hanteer ons mense met disrespek.” Sy het behaaglik aan die koffie geteug. “En die amptenare, Gert, openbaar dieselfde gesindheid. Dit is asof hulle dink hulle doen jou ’n guns as hulle jou met leë hande wegstuur, sonder die inligting waarvoor jy na hulle gegaan het vir hulp.”
Sy het lekker gesmul aan die tuisgemaakte toebroodjie. “Gert,” het sy verder gedeklameer, “het jy al ooit gesien met watter arrogansie hulle ons mense hanteer, en die rede waarom ek met jou wil praat vanmôre is oor die gedig wat jy vir my gegee het, voordat ek Stellenbosch toe gegaan het.
Die gedig met die titel: ‘Waarom praat die owerhede nooit?”
“Jy sien, Gert, ek het dit oor en oor gelees. Ek wou dit lees met begrip. Ek wou weet waar ons staan met hierdie raadslede en sommige amptenare wat plaaslike owehede vir hulleself ‘geprivatiseer’ het.”
Tannie Roeslyn het vooroor gebuk, haar handsak oopgemaak en met ’n vonkel in haar oog, het sy die pamflet met die gedig vir my gewys.
“Ek is so bly jy het die gedig nog met ’n Olivetti tikmasjien uitgetik, want dit lees vir my beter as die huidige rekenaars. So mooi en so duidelik was die letters, dat dit vir my gevoel het die tikmasjien praat met my, want jy sien, die gedig het my oortuig van die houding van politieke agente waarmee dié mense vir jou ’n rat voor die oë wil draai.”
“Ek het gehou van die eerste strofe van die gedig en daarom wil ek dit aanhaal, ek wil dit eintlik lees, soos ek dit verstaan het:
Hoekom praat die owerhede nooit oor ons, en ons inheemdheid in die land?
Hoekom word daar net gepraat oor swart en wit? Ons word as skadukinders afgemaak, want niemand rep ’n woord oor ons aandeel in die bevry-dingstryd.”
“En weet jy praat, Gert”, het sy voortgeborduur, die heldere, witte waarheid. Jy sien, Gert, selfs die tweede strofe dra gewig as jy sê:
Hoekom word ons net terloops vermeld, as daar oor steun en gunswerwing besluit word, as daar gepraat, moet word oor goed en geld, oor boikot aksies en geweld – is ons goed genoeg.
“Gert,” het sy gesê, die pamflet neergesit, en vir haar ’n tweede koppie koffie geskink, sy het nog ’n snytjie brood geneem, wat ek tussen ons gesprek voor haar neergesit het. “Jy sien, my vriend, ek het lanklaas so ’n lekker Marmelade toebroodjie geëet en hierdie een het nogal ’n effense ‘whiskey’ smaak.”
“Ek wonder nogal, hoe jy die waarheid so kaalkop kon praat soos in die derde strofe. Kom ek lees dit sodat jy dit wat jy geskryf het uit my eie mond kan hoor, want ek kon myself in jou eie skoene plaas.”
“Hoor net die diepte in hierdie naratief, Gert,” het sy met ’n triomfantelike blik in haar oë gesê.
As daar gekoukus word oor voordeel en voorkeur word ons opsetlik uitgelaat. Vreemdelinge word hier in ons moederland toegelaat, maar oor ons eerste inheemste regte word daar met disrespek gepraat.
Ousie Roeslyn het die pamflet toegevou, daar was ’n veraf kyk in haar oë en toe het sy die stilte verbreek: “Nou vra ek jou vandag dié vraag, en ek weet jyself het nie die regte antwoord nie. Wie is die vreemdelinge in ons land, ons of hulle? Toe, antwoord my, Gert,” het sy die uitdaging tot my gerig.
Ek het opgestaan, die koffieketel en die leë koppies teruggeneem kombuis toe. In die doodse stilte het ek byna hardop gedink: “Ai, Ousie, wat is die waarheid?” Ek het die kraan oopgedraai en die koffiekoppies wrewelrig gewas. (Deur Poem Mooney)
Waarom praat die owerhede nooit?
Deur Poem Mooney