Deur Johan Strasheim
Ons het verhuis daar in 1992 of so en die nuwe huis met sy reuse tuin was baie verwaarloos. Al wat daardie probleem oplos, is hande, hande en nog hande.
Die woord is uitgesit en gou was Phillip en Ronald aangestel om te help met veral die tuin. Phillip was 26 jaar oud en Ronald effens ouer. Namate die tuin onder beheer gekom het, was dit duidelik dat net een van die twee regtig nodig sou wees, maar genadiglik sorteer sulke dilemmas gereeld hulle self uit. Sonder dat ons betrokke geraak het, het Ronald besluit hy gaan elders werk en Phillip het aangebly. Phillip Moses Ntuli het ek mettertyd geleer is sy volle naam.
So met die tyd saam begin jy meer van mekaar uitvind. Phillip het ’n vrou en ’n seuntjie van ’n jaar oud gehad – ek het destyds nie geweet wat is sy naam nie. Mettertyd het daar ’n dogtertjie ook bygekom, haar naam was Bali.
Fielster (soos ons hom genoem het), het met sy gesin in Mamelodi, oos van Pretoria, by sy ma of sy ouma in die huis gebly. Hy het naderhand die huis besit en soos dit maar werk, is ek bygetrek om allerlei “tegniese” advies oor munisipale rekeninge, jaloerse familie wat ook wou erf en mediese raad oor lede van die gesin te gee. Ons lewe so apart soos dit kan, maar steeds is ons lewens inmekaar geweef. Wat ek wel kan onthou, is dat hy nooit geld geleen het of wou leen nie en dat by baie betroubaar was!
So dreun die jare een vir een verby en Fielster bly. Hy is ons tuinman en gee so nou en dan ’n hand met die swaarder werk in die huis, al is hy maar ’n kleinerige outjie. Hy kyk na alles wanneer ons op vakansie gaan en nie een maal was daar ’n probleem nie. Intussen trek ons ’n paar maal na ’n ander huis, maar telkens gaan Fielster saam en maak weer alles mooi en netjies by die nuwe huis.
Twintig jaar later trek ons plaas toe, Klein Karoo toe en Phillip kan nie verder by ons werk nie. Maar hy gaan toe maar by ons seun, Eben, se huis werk en ons reël ’n ander paar soortgelyke “piece jobs” vir hom. Maklik, want hy is so betroubaar soos dit kom en al die verwysings hou van hom.
So deur Eben hou ons oor die jare kontak met Phillip se wel en weë en sien hom selfs so nou en dan.
So ’n paar weke gelede kry ek ’n e-pos van Eben wat sê Fielster se seun soek werk en of ek ook die jongman se CV kan deurgaan en sommer bekyk of alles reg is.
Natuurlik is dit geen probleem nie. Ek werk vinnig uit dat hy nou so 27 jaar oud moet wees – net so oud soos sy pa was die dag toe hy by ons opgedraf het. Dit tref my skielik dat Phillip nou so 52 jaar oud moet wees. Het ek nie gedink Phillip word ook ouer nie?
Nou ja, die CV. Hoe substansieel kan dit tog nou wees? Ek maak die dokument met die CV oop en lees dit stil van bo tot onder.
Wat ’n gewaarwording toe ek onkant betrap word!
Flament Tsholofelo Maphoso het sy matriek in 2008 by die Pitso Jantjie High School in Pretoria behaal. Op 27 jaar oud het hy nou ’n kode 10-rybewys (Phillip het nooit die geleentheid gehad om te leer motor bestuur nie) en ’n BSc-graad (Geologie) van die Universiteit van Pretoria, én hy is tans besig met sy Honneursgraad. Dit is merkwaardig en ons is ongelooflik verras en beïndruk!
Tussen my en Eben maak ons die CV effens mooier en stuur dit terug. Binne dae kry hy ’n lekker gepaste werk by iemand wat ons ken en almal is gelukkig.
Ek kan nie help om te dink aan almal wat so gereeld om my kerm en al wat rede is uit die boek van verskonings aanhaal waarom hulle of vroeg uit die skool is of nie verder kon of wou studeer nie. Wat ’n les leer hierdie jongman nie vir duisende jongmense nie!
Sy pa was baie jare lank ons tuinman. Ten spyte van ’n oënskynlik nederige bestaan, het dit hom nie beperk om sy seun te laat verskiet en baie verder as hy te laat kwalifiseer nie. Dit getuig van Phillip se groot karakter, trots en wyse lewensuitkyk.
Waar ’n wil is, is ’n weg. Laat dit nou maar ’n les vir ons almal wees.