Verblyf vir die ouer garde

(Deur Hanri)
Aaa … die Weskus en sy blomme! ’n Moet op elke reisiger se To Do-lysie. Miskien selfs meer as een keer. Dis die Suid-Afrikaanse natuur op sy beste: plate en plate blomme wat jou gesigveld inkleur, jou besige gedagtes tot stilstand dwing en onnodige woorde wegwaai.

Namakwaland is ver en ver ry beteken jy moet êrens bly. Die gesoek na goeie, geskikte verblyf hou my tot laataand wakker, want webtuiste-prentjies kan erg misleidend wees. Dis ’n gegewe dat akkommo­dasie verkieslik beter of ten minste op dieselfde standaard as jou eie huis moet wees.

Ons akkommodasiebesluit word verder beïnvloed deur my 87-jarige ouers wat die reis meemaak. Elk­een het sy eie behoeftes en die voor- en nadele van elke gastehuis word met sorg oorweeg. Ons vra by voorbaat uit oor dinge wat kan pla. Maar ons word telkemale gerus gestel dat daar eenhonderd persent in ons behoeftes voorsien sal word.

Ons eerste stop is Paternoster.

Ons bly in die mooiste, klein huisie met ’n belemmerde uitsig op die see. Die trappe na die TV-nuus op die boonste ver­dieping is gevaarlik hoog en menigte op en af oom­blikke grens aan hartaanvalle. Die ongelyke, geteëlde terracotta-vloer veroorsaak danspassies wat ek my ouers nog nooit voorheen sien doen het nie. In die stort is daar niks om aan vas te hou nie.

Maar ons kla nie. Ons is uitgehonger vir reis.

Stop nommer twee is op ’n plaas naby Lutzville. Ons het in Augustus 2019 daar tuis gegaan. Die oggendmis wat oor die goedversorgde landerye spoel en stelselmatig deur die son verdryf word, maak perfekte foto’s. Die huis is koud en ’n buiteverwarmer word binnetoe gedra. Van die storte het slegs twee mure. Dit veroorsaak baie nat badkamervloere. Na die vorige jaar se versoek, is daar nog steeds nie ’n reling om aan vas te hou nie. Die TV-kanale maak my pa deurmekaar. Maar ons kuier heerlik.

Stop nommer drie neem ons na ’n trouvenue naby Lambertsbaai.

Daar is vier dubbelkamers op die perseel. Praat van ongelooflik; dis enige fotograaf se droom. Alhoewel ons vooraf gevra het vir ’n rustige, gesellige plek, het ons nog nooit so alleen gevoel nie. Die afgesonderde strand maak mens ietwat bang. Voeg daarby Eskom se kragonderbreking plus ’n kort­-sluiting by die hek en ons kon gedurende die stikdonkernag met niemand in verbinding tree nie. Teen hierdie tyd word die noodlot bloots gery, nog ’n TV werk nie. Ons vertrek ’n dag vroeër. Die bestuurderes verstaan, maar is nie gelukkig nie.

Laaste stop is op ’n pragtige vrugteplaas buite Ceres.

Die kliphuisie teen die berg het ’n uitsig oor die pragtige natuur en landerye. Die eienares is ’n liefdevolle jong vrou met baie begrip. Sy vra om versko­ning vir die ou badkamer. Die koue dryf ons na ’n vuurtjie in die kaggel, maar ons verstik in die rook. Die wasbak is in die gang en die stort binne-in die bad. Die oues van dae geniet ’n varkie-aand. Weer vertrek ons ’n dag vroeër.

Ons klink seker soos moeilike mense. Inteendeel, ons is alles gewoond, maar wanneer dit by die veiligheid van bejaardes kom, het ons ’n bepaalde standaard. Mens noem dit begrip.

Net soos wifi en onderdakparkering mense na ’n spesifieke akkommodasieplek lok, net so aantreklik sal glyvaste stortmatte en handvatsels vir die ouer garde wees.

En die belangrikste van alles is, wees eerlik daar-oor. Jou integriteit sal vrugte afwerp.