Nog gewag op beslissing oor vervolging na Marilize se dood

Marilize Nortier. Foto: Facebook

DAAR word tans gewag op die beslissing van die direkteur van openbare vervolging (DOV) of iemand vervolg gaan word vir die dood van Ma­rilize Nortier (18) in die oggendure van 22 September 2019.

Ma­rilize, wat in daardie stadium ’n leerder was aan Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, het verdrink toe ’n BMW waarin sy ’n passasier was, die pad verlaat en in ’n watersloot langs die Kango Grotte-pad te lande gekom het.

Sy was steeds vasgegordel in die passasiersitplek toe die motor uit die water getrek is.

Die bestuurder van die BMW was nie in daardie stadium op die toneel nie.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is daar nadat die polisie-ondersoek reeds die begin van die jaar afgehandel was, aanvanklik gewag vir ’n verslag van die Bot-singsondersoekeenheid in die Kaap. Toe dit ontvang is, is die dossier na die DOV gestuur.

Voor die opstel van dié verslag is bewysstukke wat versamel is, deur die forensiese laboratorium ondersoek.

Die bestuurder van die BMW het op aanbeve-ling van sy prokureur nie ’n verklaring oor die voorval afgelê nie. Klagtes teen hom wat ondersoek is, sluit in strafbare manslag, dronkbestuur en regs­verydeling.

Marilize se pa, Morné Nortier, sê die feit dat die saak steeds voortsleep en nie afgehandel word nie, maak dit baie moeilik vir diegene na aan haar om afsluiting oor haar dood te kry.

“Dit is van alles wat gebeur het vir my die moei­likste; die ergste van alles.” (Deur Liesel le Roux)