Blossoms-pyplyn vir Groter Oudtshoorn vorder

Raadslid Jongilizwe Tyatya (links) by David McGibbon van Umvoto, die raadgewende geohidroloë vir die Blossoms-projek, tydens ’n besoek deur raadslede aan die projek in 2018. Dié boorgat is een van dié wat gekoppel sal word met die pyplyn na Oudtshoorn. Die water spuit hier onder eie druk uit. Foto verskaf

DIE eerste gedeelte van die Blossoms-noodpyplyn wat die Groter Oudtshoorn sal help met voldoende water vir droogtetye, behoort nog vanjaar gelê te word, sê Chris Swart, waarnemende direkteur tegniese dienste by die plaaslike munisipaliteit.

Dié noodpyplyn-projek is met befondsing van R30 miljoen van die nasionale Departement van Water en Sanitasie (DWS) in 2018 geloods. ’n Addisionele R20 miljoen is in die 2019/2020-boekjaar deur die DWS beskikbaar gestel
Dié fondse is reeds aangewend vir die eerste fase van die projek – vir die ontwerp daarvan asook vir ’n gedeelte van die materiaal vir die pyplyn.

Volgens Swart sal drie diepwater-boorgate toe­gerus word vir gebruik en ’n pyplyn van 23 km lank van die Blossoms-boorgatveld tot by Oudts­hoorn se waternetwerk aangelê word. Swart sê die dorp se huidige waterbronne is onder groot druk en dat die suksesvolle implementering van die Blossoms-waterprojek ’n belangrike bron van drinkwater sal wees.

“Hierdie boorgate sal na skatting sowat 5 ML (megaliter) kan lewer. Die watergehalte is baie goed, met slegs ontsmetting en die moontlike verwydering van yster wat nodig sal wees.

“Water vanaf Blossoms sal ook help met die aanvulling van water vir die landelike gebiede in die munisipaliteit. Die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVSS) uit die boorgate van die Vermaaksrivier naby Dysselsdorp word reeds maksimaal onttrek en die Huisrivier wat water aan De Rust verskaf, is gedurende die somermaande nie betroubaar nie.”

Die stand van die pyplynprojek is soos volg:
• Die detailontwerp is in Junie 2019 voltooi.
• Sowat 9 km se PVC-pype is in Julie 2019 af­ge­lewer. Die res van die pype is in Junie 2020 be­stel en by die vervaardigers tot installasie begin.
• Die meganiese tender vir die toerus van die boorgate is na ’n tender in Mei 2020 toegeken. Die eerste bestelling vir toerusting is in Junie 2020 geplaas en word tans vervaardig.
• Die siviele tender vir installasiewerk is in Maart 2020 geadverteer met ’n kontrakteur wat reeds goedgekeur is.
• Die sluiting van ooreenkomste met grondeie­naars vir toegang na hulle eiendomme en toestemming om die pyplyn op te rig, is steeds aan die gang.

Sodra toestemming ontvang word, sal voortgegaan word met die meganiese installering asook die lê van die eerste deel van die pyplyn. Volgens Swart behoort hierdie werk voor einde vanjaar afgehandel te wees.

Hy sê die finale deel van die pyplyn sal geïnstalleer word sodra die addisionele fondse daarvoor verkry is.

“Die boorgatvelde het die potensiaal om sowat 22 Ml per dag te lewer en vorm saam met die moontlike bou van nog ’n dam deel van die langtermynbeplanning om water volhoubaar aan die Groter Oudtshoorn te voorsien.”

Die totale koste van die projek sal sowat R100 miljoen wees, wat beteken dat die munisipaliteit nog R50 miljoen benodig. Volgens Swart vind gesprekke in dié verband tans tussen die DWS, die Wes-Kaapse regering en die munisipaliteit plaas. (Deur Liesel le Roux)