Steun uit onverwagse oord vir volstruisbedryf

Dr Theo de Jager (links) van die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief wat Oudtshoorn verlede week besoek het, saam met Laubscher Coetzee (middel) van Agri Klein Karoo, en Francois de Wet, uitvoerende hoof van Cape Karoo International.

DIE droogtegeteisterde volstruisbedryf wat boon-op negatief deur die Covid-19-pandemie geraak word, het verlede week steun en hulp uit ’n onverwagse oord gekry.

’n Afvaardiging van die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai) onder leiding van dr Theo de Jager, raadsvoorsitter, het Oudtshoorn einde verlede week besoek en reeds voerhulp uit die noorde vir Oudts­hoorn se volstruisboere gereël.

As deel van die besoek is daar ook ’n video-opname gemaak van Meyer le Roux van Buffelsfonteinfaam (baardolie en brandewyn) wat drie resepte van lekker volstruisvleisgeregte op video deel. Hy berei die geregte ook voor die kamera voor. Die video kan gekyk word op Le Roux, ook ’n restauranteur, se Facebookblad Rook en Drink.

Saai is ’n landboubelangenetwerk vir boere deur boere en beywer dit vir die beskerming en bevordering van die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere.

Weens die druk wat die droogte en die Covid-19-pandemie en -regulasies op landboubedrywe plaas, het Saai ’n projek geloods om familieboere te help.

“Ons het verneem van die volstruisbedryf van Oudtshoorn wat regtig nogal in die moeilikheid is. Dis die vyfde jaar van erge droogte, en weens Covid-19 is die vleismark in sy swernoot. Die restuarante was lank toe, die vere verkoop nie weens die internasionale feeste soos die Rio de Janeiro-karnaval en Stockholm Waterfees wat nie vanjaar plaasgevind het nie. En die verkope van velle, wat net in ’n groeiende ekonomie in aanvraag is, het ook skerp afgeneem weens die eko-nomie wat wêreldwyd nie gegroei het weens Covid nie,” het hy gesê.

De Jager sê die doel van Saai se besoek is om te hoor presies wat se probleme die bedryf ervaar en hoe Saai kan help.

“Volstruisboerdery is taamlik uniek en hier is families wat al van geslag tot geslag met volstruise boer. Vir Saai is dit belangrik dat bates, ervaring en marktoegang van geslag tot geslag oorgedra word. Dit is vir ons vreeslik belangrik dat ons dié tipe boere op hul plase hou.”

Volgens De Jager het Saai reeds hulp in die vorm van voer gereël.
“Ons het ook gesels oor wat aan die watersituasie in die streek gedoen kan word. Ons glo ons kan beleid beïnvloed en druk toepas. Maar ons kan beslis help met blootstelling om ’n vraag na volstruisvleis te help skep. Daarom het ons Meyer le Roux saamgebring om ’n beeldopname te maak van waar hy volstruiscarpaccio, sosaties en ’n jagterspotjie voorberei,” vertel De Jager.

Hierdie video sal land- en wêreldwyd uitgestuur word om ’n aptyt vir volstruisvleis te skep.

Sowat 20 groot organisasies is deel van Saai se netwerk en tussen hulle is daar 700000 name na wie ’n WhatsApp of sms met ’n skakel na die video gestuur kan word. Nog ’n video is tydens die besoek gemaak waarin De Jager die volstruisboere van Oudtshoorn se moeilike situasie beskryf.

“In die video’s moedig ons ook mense aan om as hulle kan op Oudtshoorn te kom kuier en die dorp en sy mense te beleef. Ons sê vir hulle: jou kuier kan ’n boer help om op sy plaas te kan bly. En as jy Saterdagaand braai, oorweeg volstruis-vleis. Dit is ook belangrik om mense bewus te maak van hoe om volstruisvleis voor te berei. Op Meyer se video-opname word gewys hoe om dit te doen. So kan ’n mark wat swaarkry gehelp word,” sê De Jager.

Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo (AKK) se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, het gesê KKA verwelkom Saai se inisiatief en die blootstelling wat die organisasie bied.

“Tydens hul besoek het Saai ook verneem van fasette van die volstruisbedryf waarvan hulle nie bewus was nie. Ons wil graag Theo bedank vir Saai se belangstelling en die insette wat hulle reeds gelewer het.

Dit was ’n voorreg om hulle hier te hê en hulle is altyd welkom hier by ons.”
Vir meer inligting oor Saai besoek gerus die organisasie se webtuiste by www.saai.org. (Deur Schalk le Roux)