Kango Grotte weer oop op 11 September!

NADAT die Kango Grotte ses maande gelede vir die inperking moes sluit, open dié ikoon van die Klein Karoo sy deure weer op Vrydag 11 September.
Die Kango Grotte is die grootste toerismetrekpleister in die streek met sowat 250 000 mense wat dit jaarliks besoek. Meer as die helfte van die jaarlikse besoekers was in die verlede uit die buiteland, veral uit Europa en Suidoos-Asië.

Volgens Alison Moos, waarnemende bestuurder van die Kango Grotte, was dit die eerste keer sedert die Grotte sy deure in die laat 1900’s geopen het wat dit so lank gesluit was.

“Ons besef dat Covid-19 ’n negatiewe invloed het op die ekonomie en verwag nie vir die volgende 18 maande soveel besoekers soos in die verlede nie.”

Slegs die erfenistoer sal aanvanklik aangebied word met die grootte van groepe wat van 100 mense na 20 mense verklein word. Die uitdagende avontuurtoer wat deur smal tonnels en openinge gaan, sal nie beskikbaar wees nie.