Sissy sing vir voedselhulp

Koop ’n CD en dra so by tot voedselhulp op Oudtshoorn Dié CD, Sissy sings Country, word teen R100 verkoop vir die McGurks se fondsinsameling vir voedselhulp. Foto verskaf

IN die eerste week van ’n voedselhulp-fondsinsameling vir Oudts­hoorn het dr Barry en Sissy McGurk reeds R46 000 ingesamel, en beplan hulle om nog meer te doen om diegene wat dit die meeste nodig het, te help.

Die McGurks se fondsinsameling help met sopkombuise wat reeds bestaan, maar wat sukkel weens finansiële tekorte.

Om dit te kan doen, het hulle ’n “crowdfunding”-veldtog begin onder hul vriende, familielede en toeriste van regoor die wêreld wat voorheen hul aandetevertoning, Magic Moments, bygewoon het.

“In ruil vir ’n donasie is daar ’n voor­deel; mense kry toegang tot ’n CD wat ons opgeneem het vir die veldtog, genaamd Sissy sings Country,” sê Barry. Dié CD word teen R100 aan inwoners van die streek wat bereid is om te help met die fondsinsame­ling, verkoop.

Barry sê dat hulle reeds met vier groepe vrywilligers wat sopkombuise bestuur, kontak gemaak het, en met hulle vergader oor hoe die fondse versprei word.

“Hulle SMS ons met hoeveel hulle benodig en ons kan die bedrag wat hulle benodig onmiddellik na hul bank­rekeninge oorplaas. Ons pas finansiële beheer so goed moontlik toe, en ons vra aan die einde van elke maand vir kwitansies,” sê hy.

Koop gerus ’n CD en help diegene in die Oudtshoorn-omgewing wat nood het. Bel, WhatsApp of SMS 072 323 6500 om die CD te koop. Volgens Barry word alle geld van die CD-verkope vir die projek gebruik. (Deur Stefan Skapie Goosen)