Polisie bewus van tikhuise; benodig die publiek se hulp

INWONERS in ’n deel van Oudts­hoorn-Noord is raad-op met wat hulle “tikhuise” in hul woonbuurte noem.

En die Oudtshoorn Polisie sê hulle is bewus daarvan.

Vandalisme, diefstal, gereelde ba­klei­ery in die straat en ’n geskreeu tot laatnag is van die probleme waaroor inwoners van Condor-, Van der Riet, Kerk- en St Georgestraat asook Eerstelaan kla. Hulle glo die “tik­huise” is die oorsaak van dié probleme en voel ook dat nie genoeg aandag aan die probleem geskenk word nie.

Die onlangse vandalisme van die Joodse en munisipale begraafplase in Condorstraat word deur sommige inwoners ook aan die sogenaamde “tik­koppe” toegeskryf.

Inwoners vertel tot dat hulle die speelparkie in dié omgewing wil laat toemaak, omdat dit glad nie meer geskik is vir kinders nie.

Hulle sê dit het ’n vergaderplek geword vir dwelmhandelaars en -verslaafdes.

Die Oudtshoorn Polisie se woordvoerder, kapt Louis Visser, sê daar was reeds optredes deur die polisie by sommige van die huise, asook inhegtenisnames van mense wat by hier­die adresse kom.

“Ons is bewus van die plekke en daar word toekomstige optredes beplan met die nodige observasie van die persele,” het hy gesê.

Om die plekke egter permanent te sluit het die polisie die publiek se hulp nodig, sê Visser.

“Die publiek is die polisie se oë en ore en ons vra hulle om aan ons inligting te verskaf wat ons sal help.”

Hy het die publiek versoek om seker te maak dat hulle die persoon of persone wat by hierdie tikhuise gesien word, goed kan beskryf – wees oplettend na hul kleredrag, liggaamsbou, moontlike tattoeërmerke, skoene, ensovoorts.

“As dit moontlik is, neem foto’s of video’s en skryf voertuie wat gereeld daar kom se registrasienommers neer.

“Maak notas as dit moet van hoe gereeld persone by die huis kom of daar rondhang.”

Visser het gesê dat persone met inligting kan bel, WhatsApp of SMS na 082 522 3321.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word. (Deur Stefan Skapie Goosen)