Tel maar jou seëninge…

Deur Johan Strasheim

Die foto wys hoe uie bespuit word vroegoggend op n glashelder Klein Karoooggend. Daar word van blaarvoeding tot plaagbeheermiddels to toegedien.

Soms werk dae nie so lekker uit soos beplan nie. Om eerlik te wees, dinge op die plaas is soms geneig om skeef te loop vir geen rede nie. Dié Saterdag was een van daai dae … ’n gemengde, besige vol dag vol uitdagings.

Die veronderstelde rusdag bied toe nie baie rus nie. Eers word daar met eerste lig teen so 06:00 gif gespuit op die wortelplantasie saam met my manne om die gogga-brigade die hoof the bied.

Ek soek ’n lekker groot saadoes en doen wat ek kan. Dit beteken dat jy gereeld maar moet allerlei middels spuit. Soms onheilspellende chemiese goeters wat ruik soos die dood. Jammer goggatjies, maar die “my space/your space”-beginsel is streng van toepas­sing in hierdie geval.

Daarna moet ek natgooi, want dit word nou baie warm en die plante raak groter en soek baie water. My waterman is siek en die tweede in bevel is dorp toe vir die een of ander storie. Wonderlik. Gelukkig staan ek terug vir niks en eie­handig besproei ek toe maar alles en bemes al die derduisende tamatieplantjies sommer terselfdertyd met die volgende sarsie kunsmis op die program. Ek soek ’n mooi oes. Dit gaan maar druk met die program.

Alles gaan bakgat, totdat ek by ’n kraan buk en my iPhone uit my hempsak gly en in die modder val. Dis nou mooi, dis nou baie mooi. Ek bedoel soos in papnat modder – elke gaatjie op die foon is solied vol met kleierige nat Karoogrond. Daar leer ek weer die ou lewensles – hoe meer haas, hoe minder spoed! Ek het afgespreek met die manne by die Aeroklub om ’n draai te gaan vlieg en ek is gevolglik haastig. Nou ja, eerste dinge seker maar eerste.

Ek sit toe maar en lees die vorige Don­d­erdag se Hoorn onder ’n boom terwyl ek wateroplosbare kunsmis uitpomp oor hektare en hektare tamatie­plantjies, want hulle moet groot en sterk word. Sommer vinnig ook. Die iPhone lê eenkant met sy agterent vol fyn modder teen ’n klip in die son sodat dit kan droogword. Ek reken dis beter om droë, fyn grond te probeer uithaal as taai nat modder. Dit was nou werklik nie nodig nie!

Uiteindelik terug by die huis … die iPhone se laaier werk nie. Nog ellende. Nou ja, dit moet wag. Ek het nog batte­rylewe oor en nou eers lughawe toe. Soos ek gesê het – eerste dinge eerste.

Daar gekom moet die ouens my egter eers help om die vliegtuig se enjins “gestart” te kry, want – ja – die battery is pap… Dit hou eenvoudig nie op nie! Ons kry egter die besig­heid uitgesorteer en daar gaan ons.
Ons vlieg ’n draai en geniet die wonderlike voorreg van vlieg. Ons vlieg van Oudtshoorn na Plettenbergbaai, terug oor Knysna en die Koppe, en finaal deur die Outeniquaberge huis toe. Op die grond in Oudtshoorn in 48 minute. Wonderlik! Die see was bedek onder ’n lae mis­kombers en dit was nogal opwindend om laag daaroor te kon beweeg teen omtrent 400 km/uur.

Terug in Oudtshoorn bêre ons die Aerostar en gaan kyk die Wallis/Argen­tinië-toets by die klubhuis en drink ’n lekker yskoue ietsie of wat saam met vriende. Die lewe is lekker.

Terug by die huis, baie “contact cleaner”-aerosol, baie krap met ’n tan­de­stokkie en wil jy glo … die iPhone laai weer. Eureka! Nou moet die Spring­bokke ook net mooi speel en wen vanaand. Uiteindelik begin dinge weer op die spore loop.

Ek dink aan die mense wat regtig moeilikheid het. Ernstige probleme. Nie modderige selfone en vliegtuie met pap batterye nie. Ek kyk vir myself in die spieël in die gang, lag hardop vir myself, want ek tel skielik my seëninge en kan glimlag oor myself en my bedeling.

Soos hulle sê … tel eerder jou seëninge as jou probleme, anders gaan jou seëninge dalk nie tel nie!