
DIE Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chad Louw, het dié week inwoners en besoekers bedank vir die rol wat hulle gespeel het om vanjaar se 26ste KKNK suksesvol te maak.
“Dankie aan die inwoners vir jul bydrae om die fees onvergeetlik en spesiaal vir besoekers te maak. Dankie aan die besoekers wat van naby en ver gekom het om die KKNK by te woon en daardeur nie net die kunste nie, maar ook toerisme na Oudtshoorn en die ekonomie van die dorp ondersteun en gestimuleer het.”
Volgens Louw het die munisipaliteit as een van die borge van die fees logistieke en finansiële steun gebied om ’n suksesvolle KKNK te verseker. In ruil het die KKNK 600 dagkaartjies vir die Feesmark aan die munisipaliteit beskikbaar gestel wat aan lede van die gemeenskap gegee is. Die KKNK het via die munisipaliteit ook kaartjies vir vertonings beskikbaar gestel sodat inwoners die fees kon bywoon.
Voorts het die munisipaliteit 10 klein besighede (SMME’s) bygestaan met stalletjies by die fees sodat hulle daar blootstelling kon kry as deel van die bemagtigingsvisie van die munisipaliteit. Die gesamentlike koste van dié stalletjies was R55 000.
Volgens Lluwellyn Coetzee, waarnemende direkteur strategiese dienste by die munisipaliteit, was dit opwindend vir almal by die munisipaliteit dat die KKNK na twee jaar weer op Oudtshoorn aangebied is.
“Ons vertrou dit het ekonomies ’n verskil in die dorp gemaak.”
Coetzee sê dit was te verwagte dat die fees vanjaar nie so groot soos voor Covid-19 sou wees nie, maar besef dat vanjaar se fees deel was van ’n proses om weer dieselfde hoogtes as in die verlede te bereik.” (Deur Liesel le Roux)