Tandprobleme is nie jou speelmaat nie. Tandpyn ook nie. Ek glo dat tandpyn en oorpyn saam in die eerste plek van seerkry staan.
Die hele drama het afgespeel in my matriekeksamen maar het jare vroeër op ons plaas anderkant Amsterdam begin.
My pa is vir die dag af plaas toe en ons is natuurlik saam. Daar aangekom doen hy sy praatwerk en reëlings met oom Pasman Pienaar, die plaasbestuurder. Ons seuns vlieg weg en doen soveel moontlik want vanmiddag is ons alweer op pad terug.
In die gespelery, klim ek oor ’n muur in die skuur en anderkant moet jy baie mooi met een voet op die kop van ’n hekpaal trap en jouself stadig laat sak om die laaste entjie grond toe onder beheer te spring.
Om ’n lang storie kort te maak…ek trap die hekpaal mis, gly, val af en my ken tref die hekpaal skrams en ek besef hier is moeilikheid nog voor ek op die grond is. Pyn, bloed, stukkende tande – en die pret summier op ’n einde.
Dié middag terug Pretoria toe sal ek nie sommer vergeet nie – opgekrul vir wat gevoel het soos ’n ewigheid in ’n bondel pyn op die agtersitplek van die groen Valiant. So het ’n jarelange tweestryd met my tande begin.
“Fast forward” so tien jaar. In matriek begin ek kwaai sukkel met my tande, spesifiek met ’n pyn bo my voortande. Die tandpyn vreet my op en dit is matriekeksamen.
Ons is na die gebruiklike tandarts toe daarvoor en hoe sal ek nou as matriekseun weet of hy weet wat hy doen?
’n X-straal of twee later en die aanbeveling is dat hy ’n sg tandwortelbehandeling op een van my voortande doen en die spul so dreineer. Reg so, die pyn moet net ophou … ek skryf more wiskunde van alle vakke.
Hy boor ’n dun kanaaltjie in die tand op en verwyder die tandsenuwee, werk die kanaaltjie netjies af, spuit allerlei ontsmettingsmiddels in die tand op om die ontsteking te stop, prop die kanaaltjie netjies met ’n dun watteproppie vol en maak die gaatjie toe met ’n tydelike vulselmateriaal.
Ek is huis toe met die gebruiklike dik, gevoellose lip en ’n handvol antibiotika- en pynpille, sou die spul weer opvlam.
Nou ja, ek kan weer fokus en blaai vroegaand my wiskunde werk vining deur. Ek het altyd daarin geglo om vroeg te gaan slaap die aand voor ’n eksamen.
My strategie was dat daardie bietjie ekstra wat jy dalk mag inneem die aand voor die tyd minder werd is as ’n helder verstand die volgende oggend. So gesê, so gedaan en net na nege-uur gaan slaap ek …
Ek word in die nag wakker met ’n ligte kloppende pyn bo my voortande en wonder hoe laat dit is.
Bedliggie aan … ag nee, dit is maar elfuur! Darem twee ure se rus agter die rug.
’n Vinnige som sê ek het nog so sewe ure se potensiële rus oor. My tandvleis voel maar teer onder my bolip en ek skryf dit toe aan die lewe wat nou eers teruggekom het.
Ek drink gou nog pynpille en probeer weer slaap, maar dit sukkel maar met die pyn en my gedagtes wat op hol is – en rol koorsagtig rond in die bed.
Dit voel soos tien minute later wat ek weer helder wakker word. Dit is kwart voor drie. Dié keer weet ek ek het regte moeilikheid. Daar is ’n knop in die tandvleis in my bo-kaak wat onophoudelik en kloppend pyn. Nou wat nou. Nog pynpille gaan nie die ding doen nie, dis te gou na die ander en oor ses ure moet ek wiskunde skryf. Planmaaktyd…
Ek besuit ek gaan die tydelike proppie aan die agterkant van die tand maar probeer uithaal en sodoende die druk bo die tand verlig.
My toerusting is my suster se handspieël, ’n tweede, kleiner spieëltjie en ’n passer uit my meetkundeboksie.
Ek maak die handspieël staan teen ’n koffiebeker en stel my leeslamp op my lessenaar mooi in om lig op die saak te werp.
Teen hierdie tyd is ek al papnat gesweet en bewerig van die pyn wat onhoudbaar geword het.
Ek krap versigtig die tydelike materiaal uit die gaatjie agter die voortand uit, haak die watteproppie en trek liggies daaraan. Alles met ’n wydoopgetrekte mond sodat ek lig daarin kan kry om te sien wat ek doen.
Ek trek nog ’n bietjie en die volgende oomblik bars die spul oop en ’n stroom gemors loop uit die tand uit met ’n paar skerp steekpyne daarmee saam.
Ek knyp maar oë toe en sit dit in stilte uit. Het jy al op jou tande gekners met ’n oop mond?
Binne sekondes is die pyn weg, soos in skoonveld, en ek kyk vir myself in die handspieël, nou met bloedbelope oë en ’n flou glimlag.
Ek gaan spoel gou my mond uit en loer vir die klok voor die laaste stukkie slaap. Dit is kwart oor vier.
Nou ja, ek het wiskunde heeltemal goed deurgekom maar het vir baie jare nog gesukkel met my tande – tot ek by manne uitgekom het wat regtig weet wat hulle doen.
My beskermengel was op diens daardie nag. (Deur Johan Strasheim)
Tandarts DIY
Deur Johan Strasheim