Dit was weer een van die heerlike Somersoggende op Oudtshoorn. Ek het in die koelte op die stoep gesit en koffie drink. Die koffie was heerlik en ek het so nou en dan sulke “snoep” teugies van die heerlike brousel gedrink. Die geur van die ‘Jacobs’ het my neusvleuels verleidelik geprikkel en ek was net gereed om vir my ’n tweede beker koffie te skink, toe ek Ousie Roeslyn en haar niggie, Katie Morris by die tuinhekkie gewaar.
Aan die manier waarop hulle gesels het met handgebare, en die harde stemme, kon ek aflei dat hulle weer oor die een of ander onderwerp aan’t strye was.
Ek het die twee vriendelik gegroet en hulle binne genooi, terwyl ek vir elkeen ’n beker koffie geskink het. Hulle het rustig op die tuinbankie langs my kom sit.
Ousie het my bedank vir die heerlike koffie, en na die eerste sluk, het sy haar na my gewend. “Haai, Gert,” het ousie ewe opgewonde beginne gesels. “Ek en Katie was vanmôre vroeg by die Munisipaliteit om ons “deernis” goeters te gaan regmaak en dit is toe dat ek een van jou oud-skoolmaats, Reginald Botha raakgeloop het. Hy het groete laat weet. Hy het ook gevra of jy nog betrokke is op die plasie wat jy in 1998 by die munisipaliteit gehuur het en dit is hoekom ons reguit hiernatoe gekom het, want ek wou al verlede week vir jou vra of ‘Voetrus’ nog in jou besit is?”
“Ag nee, ousus”.
Ek was sterk van plan om die gesprek in ’n ander rigting te stoot. “Ek wil nie graag vanmôre daaroor gesels nie.”
Ousie het die leë koppie driftig op die piering neergesit. “Die mense by die munisipaliteit het dan juis vanmôre amok gemaak oor grond.
Dit was regtig ’n lelike ding en ek het net daar besluit om met jou te praat oor ‘Poem se Voetrus’.”
Ek het ousie lank aangekyk en toe het ek na ’n lang stilte probeer om haar te antwoord. “Ek voel nie negatief om oor die raad te praat nie, Ousie,” het ek traag gesê. “Ek het rede om hulle te kritiseer, maar kom ons laat dit liewer daar.”
“Nee, Gert,” het ousie my onderbreek. “Toe, uit daarmee – het jy nog die grond of het jy dit nie meer nie,” het sy my so half en half stormgeloop.
“Haai, ousie, moet ons nie liewer stilbly oor hierdie saak nie? Onthou dit is byna 25 jaar gelede. Ek moet erken, die munisipaliteit is nie ewe regverdig met al sy kiesers nie.”
“Party mense huur grond by hulle vir vyf jaar en na die vyf jaar kry hulle ’n opsie om te koop, en dit sê ek sonder benadeling van regte, want ek het ook maar die storie by Willem Stalmeester gehoor.
Ek het nooit so ’n opsie gehad nie. Sou ek dit gehad het, was ek lankal reeds ’n grondbesitter.”
Ek het lank stilgebly, want ek het gewag dat ousie iets moet sê. Dit was toe dat sy my direk aangespreek het.
“Nou hoe het die mense dan so stief met jou gewerk, Gert, wat het jy dan verkeerd gedoen?”
“Nee, ousie,” het ek probeer verduidelik. “Dit is ’n baie lang storie. Die raad het hulle mense op die grond wat ek van hulle gehuur het, kom ‘dump’. Ek het dit vir hulle gesê, vir hulle gevra om die mense te verwyder.”
“Hulle het halfhartig probeer, maar die situasie het net versleg.”
“Boonop het hulle waterwese ook op die grond neergesit – en die situasie het so versleg dat ek hulle voor ’n ultimatum gestel het.”
“Wil jy vir my sê hulle wou jou nie gelyk gee nie. Hulle werkers het my besteel. My gereedskap, twee donkiewaens het in die slag gebly. Mpy woonhuis lyk soos ’n grot.”
Ek het my boek oor ‘Poem se Voetrus’ in my studeerkamer gaan haal en vir ousie die foto’s gewys, die spoeltoilette gewys, gewys waar ek ’n septiese tenk geplaas het. Hoe die ander geboue wat ek aangebring het, afgebreek is. My donkiewaens en half verwytend bevestig het, hoe my donkies geluk het. Die donkies wat aan die Krokodilplaas verkoop was. Die raad, ousie, het niks gedoen om my regte te verdedig nie.”
“Ek kan onthou hoe entoesiasties ek vir my ma die foto’s gewys het toe ek daar begin het by my staanplek langs die Le Roux rivier.”
“Ek het nog vir haar gesê hoe dankbaar ek was teenoor die munisipaliteit vir die geleentheid wat hulle vir my gegee het. En weet ousie wat my ma gesê het toe ek gesê die Raad gaan my tegemoet kom en die mense afsit van die grond af.”
“My ma het vir my gesê: Jy weet, Gert, ’n mens moenie so naïef wees nie. Stel in prinse
geen vertroue. Daar’s by hul geen heil te vind…”
Stel in prinse geen vertroue
Deur Poem Mooney