Duisende groet geliefde rugbyspeler

Foto’s geneem by die begrafnis van Boutros May: Garnett Wicomb

BOUTROS MAY het ’n reuse-impak op haar lewe gehad. Hy was haar rolmodel en sy sal hom onthou vir sy opregtheid, nederigheid en die feit dat hy almal met respek behandel het.

So het adv Michelle Weyers die geliefde los­voorspeler van die Bridgton Rugbyklub in haar huldeblyk beskryf wat sy verlede Saterdag by Boutros (Boelie) May se begrafnis gelewer het.
Weyers, ’n huisvriend van die May-familie, was een van die mense wat huldeblyke gelewer het.

May (30) is op 12 Februarie in Adderleystraat, Oudtshoorn in die skouer gesteek en is later in die hospitaal oorlede.

Volgens Weyers sou Oudtshoorn ’n beter plek gewees het as die helfte van die inwoners Boutros se gesindheid gehad het.

“Hy was sy familie en vriende se anker. Hy was ’n man van aksie en iemand wat nie onder groepsdruk geswig het nie. Hy was ’n man van min woor­de en het nie verdien om so te sterf nie.

Hy is so skielik van ons af weggeneem … ek kan dit nou nog nie glo nie,” het ’n bedroefde Weyers gesê.

Sowat 3 000 roubeklaers het die kerk volgepak.

Die diens is voorafgegaan deur ’n huisdiens in Vygiehof, gelei deur aartsbiskop Reyalno Ettienne Booyce, waarvandaan May se mede-rugbyspelers die kis, gedrapeer met ’n vlag van die klub en ge­verf in die klubkleure, om die beurt tot by die kerk gedra het.

Samantha McBean van Genesis Begrafnisdiens­te het die stoet gelei met ’n rugbybal in haar hande.

Die president van die Bridgton Rugbyklub en bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru), Hennie Baartman, het in sy huldeblyk die medelye van Saru se president, Mark Alexander, aan die May-familie, die rugbyklub en Oudtshoorn oorgedra.

“Bridgton en Oudtshoorn het ’n skitterende flank verloor. Hy was ’n merkwaardige man en ek wil hom vergelyk met Dawid in die Bybel. Hulle was albei wenners. Boutros was ’n wenner en met sy dood het hy sy dorp, die streek en die hele Suid-Afrika verenig.”

Baartman het May geloof as “seker een van die beste 7-flanke wat die rugbyklub en Oudtshoorn al opgelewer het”.

“Dit was Boutros se wens dat Bridgton vanjaar die SWD-ligabeker wen en ek wil ’n beroep op die klub doen om Oudtshoorn trots te maak en dit wel vanjaar te doen.”

Een van May se beste vriende, Surgeo Pypers, het hom beskryf as iemand na wie daar geluister is wanneer hy gepraat het. “Hy was Boelie die boer, Boelie die baas, en ek wil vandag die verse­kering gee dat ons daar sal wees vir mekaar, soos wat hy dit wou hê,” het Pypers gesê.

’n Vriend van skooldae af, Orran Mei, het in sy huldeblyk gesê Boutros se persoonlikheid het nooit verander nie. “Hy was van kleins af nie ’n prater nie, maar ’n doener en ook ’n baie goeie swemmer.”

Die president van die SWD Rugbyvoetbalunie, Ben Brinkhuis, het namens die unie gepraat “Een dood in ’n familie en een dood in ’n rugbyklub is een dood te veel,” het hy gesê.

Bettie Kumutu, onder wie Boutros by ’n plaas­like skoenfabriek gewerk het, het gesê dat sy hom sal onthou as iemand wat sy werk goed gedoen en nooit nee gesê het nie.

“Boelie het die Here geken. Die dood kry jou waar hy jou wil hê en ons almal moet nader aan Hom leef soos nog nooit tevore nie.” (Deur Garnett Wicomb)