Somervrugte in jou slaai!

ALMAL kan saamstem dat die somer waarlik hier is en daarmee saam kom nie net die erge Klein Karoo-hitte nie, maar ook die plaaslike somer­vrugte­seisoen. By vele plase kan jy selfs jou eie vrugte gaan pluk: druiwe, perskes en appelkose. En langs die pad staan daar mense met bakkies wat waatlemoen, spanspek, vye en pruime van die plaas af na jou tafel toe bring.

In ons kosrubriek kyk ons vandeesweek na somerslaaie wat met plaaslike vrugte gemaak kan word. En hier praat ons nie van ons geliefde vrugteslaai wat yskoud saam met roomys as nagereg bedien word nie, maar eerder na maniere wat soet vrugte saam met souterige kosse in somerslaaie gekombineer kan word.

  1. Waatlemoen en fetakaas is seker een van die bekendste soet-sout-kombinasies wat die wêreld -oor in somerslaaie gebruik word. Dié twee smake komplementeer mekaar beter as vinkel en koljander, en kan met komkommer en roketslaai aangevul en met Balsamiese-asyn en swartpeper be­- sprinkel word. Dis ’n gunsteling saam met braaivleis, maar ook gewild wanneer dit eenvoudig so warm is dat mens net nie die krag vir kook het nie.
  2. ’n Ander bekende kombinasie is natuurlik span­spek en ham – ’n goeie Italiaanse proscuitto is hier ’n moet. Baie fyn gesnyde basiliekruitblare kan as versiering dien, wat dan ook die soet-sout-verhouding in smaak sal komplementeer. In kleiner porsies dien hierdie somerslaai ook baie goed as ’n vars voorgereg by ’n someraansit-ete.
  3. Vir dié van ons wat hou van die sterker kase soos bloukaas, werk druiwe as ’n goeie somerslaai-kombinasie. Bedien hierdie smaakpaartjie op kraakvars babaspinasie saam met okkerneute, en jy is van ’n middagete-applous verseker. Ons plaaslike suikersoet hanepootdruiwe kan hier as plaasvervanger vir die rooi druiwe in die foto gebruik word.
  4. ’n Wenkombinasie is vars vye, aarbeie en biltong. ’n Romerige bokmelkkaas kan hier bygevoeg word of bedien dit net so op sagte soetblare soos botterblaarslaai of ons goeie ou slaaiblaar-staatmaker, Iceberg.
  5. Laaste op ons somerslaailys is Appelkose, perskes en pruime is ook volop gedurende die somer in die Klein Karoo. Gebruik hierdie steenvrugte gerus ook in jou slaaie en kombineer hulle met ’n romerige Brie- of Camambert-kaas. Skerper slaaiblare soos wilde roketslaai of mosterdblare sal hier die beste werk om dié smaak-vrienskap af te rond.

    Die lekkerste van soet-sout-kombinasies met vrugte is dat die verskillende seisoene ons altyd met iets verskillend voorsien om mee te speel, en dat daar waarlik geen reëls is nie. Improviseer met vrugte en soutighede in slaaie en laat ons weet waarmee julle vorendag gekom het! (Deur Robert Koen)