Inskrywings vir 3de Dramaweb-kompetisie open

Suid-Afrika se jong akteurs wat hul talent wil slyp, kan binnekort landwyd vir Dramaweb SA se derde aanlynkompetisie inskryf.

Dié gewilde kompetisie is in 2020 tydens die grendeltyd deur akteurs Ira Blanckenberg en Waldemar Schultz geloods om die jeug te inspireer, te leer en uiteindelik deur middel van dié aanlyn-dramakompetisie te vereer.

Nóg goeie nuus is dat dié kompetisie vanjaar in samewerking met die KKNK aangebied word en nou as KKNK Dramaweb SA bekendstaan.

“Dit is vir ons ’n voorreg om vanjaar nouer by die projek betrokke te raak en ook ’n absolute plesier om die vordering van die leerders dop te hou en saam met hulle groei te ervaar,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Theart sê jongmense het die afgelope twee jaar baie veranderinge in hul daaglikse lewe getrotseer en moes leer om aan te pas en aan te beweeg. “Dit is verblydend om te weet die leerders is so toegewyd en positief oor die Dramaweb SA-program en om hul vordering en uiteindelike vreugde vir hul prestasies saam met hulle te beleef. Die deelnemers is ernstig oor ’n toekoms op die planke en voor die skerm!”

Afdelings vir inskrywings sluit prosa, gedigte, monoloë en mimiek in, met ’n afdeling vir spreek-kore wat vanjaar bygevoeg is. Deelname word aanlyn hanteer, met kundiges wat deelnemers sal bystaan en lei in die proses.

Aansoeke vir KKNK Dramaweb SA het Dinsdag (15 Februarie) geopen. Vroeë inskrywings-koste beloop R140 per item vir alle inskrywings wat teen 15 Maart ingedien word. Daarna is die koste R170 per item. Video-opnames van deelnemers kan teen 10 Mei by www.dramawebsa.co.za opgelaai word. Deelname vind in Afrikaans of Engels plaas en eie materiaal word vir alle items gekies. Die eindronde vir Afrikaanse items vind op 18 Junie plaas en vir Engelse items op 19 Junie.

Vir meer inligting, besoek Dramaweb SA of die KKNK se webblad by www.kknk.co.za, of kontak Daventia Kennedy by info@dramawebsa.co.za of 044 203 8600. Vir raad en ondersteuning, kontak gerus vir Blanckenberg by ira@dramawebsa.co.za.