Outshoorn se Anuschka op pad na Idols SA-oudisie!

Anuschka Henning (26). Foto verskaf

VIR Anuschka Henning (26) van Oudtshoorn word een van haar drome vandag (17 Februarie) wanneer sy die geleentheid kry om voor die beoor­delaars aan die oudi­sie­ronde van Idols South Africa se 18de seisoen op te tree.

Anuschka moes vir die aanvanklike keuring ’n oudisie video van nie langer nie as 30 sekondes instuur.

Haar keuse was die gewilde lied Rise Up.

Die Idols-span het haar hierna laat weet dat hulle haar graag tydens ’n volgende oudisie voor die beoordelaars in Johannesburg wil hoor sing.

“Ek is opgewonde en gespanne en kan nie in die nag slaap nie! Maar ek is so dankbaar vir hierdie geleentheid. Dit het guts gevat om in te skryf, maar ek is so bly ek het!” het sy vroeër die week aan Die Hoorn gesê.

Sy het Woensdagoggend reeds per vliegtuig na Johannesburg vertrek.

Anuschka vertel sy het twee jaar gelede ook vir Idols SA ingeskryf, maar besef nou sy was nog nie gereed vir die kompetisie nie.

“Ek sukkel om in myself te glo en die reaksie van Oudtshoorniete op my video wat ek vanjaar ingestuur het, het my weer vertroue in myself gegee.

“Ek is baie dankbaar ek het vir my vriendin Eleanore geluister wat vir my gesê het: Go for it!”

Anuschka sing vandat sy sommer nog ’n klein meisietjie was en het oor die jare in baie kompetisies op die dorp uitgeblink.

Sy is onder meer in 2008 as Dros se Superster aangewys en in 2018 as die volwasse wenner in Brian’s Grill se Idols-kompetisie.

Tans is sy een van ’n groep talentvolle Oudts­hoorniete wat na oudisies gekies is om deel te neem aan ’n opwindende musiekteaterproduksie vir vanjaar se KKNK saam met die bekroonde teaterskrywer en -regisseur Neil Coppen en kunstenaar Vaughn Sadiel.

Dié produksie wat bestempel word as ’n “liefdesbrief” aan die mense van die Klein Karoo, wil die talent en stories van Oudtshoorn-inwoners en -kunstenaars ten toon stel. (Deur Liesel le Roux)