INWONERS van die Groter Oudtshoorn raak toenemend bekommerd oor die troebelheid van Oudtshoorn se drinkwater.
Ondanks die Oudtshoorn munisipaliteit se verklaring dat die troebel water veroorsaak word deur reënwater wat afloop in die dorp se waterbron en deur pype wat in die waternetwerk bars en herstel moet word, is daar steeds vrae.
’n Inwoner van Oudtshoorn wat sy swembad Saterdag (12 Februarie) met drinkwater gevul het, het ’n foto (sien foto bo) aan Die Hoorn gestuur wat hy geneem het nadat die swembad vol was. Die water was so bruin dat die bodem van die swembad kwalik sigbaar was.
Nog inwoners van die Groter Oudtshoorn het gekla oor hul drinkwater wat donkerbruin uit hul krane kom.
Einde Januarie vanjaar het die Oudtshoorn Munisipaliteit in ’n persverklaring gesê dat die harde reën in November en Desember verlede jaar veroorsaak het dat modderige water in die dam gevloei het, wat die troebelheid veroorsaak het.
Volgens die verklaring is die dosis chloor waarmee Oudtshoorn se drinkwater behandel word, aangepas nadat water meer troebel geraak het ná die swaar reën.
Chad Louw, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het toe ook aanbeveel dat Oudtshoorniete die drinkwater van die dorp kook totdat die watergehalte na normaal terugkeer.
Inwoners het egter aan Die Hoorn gesê hulle meen dit kan nie nou meer die reënafloopwater wees nie, omdat dit lanklaas gereën het.
Hulle sit nou, meer as drie weke later met dieselfde probleem. Inwoners is steeds bekommerd oor die veiligheid van die drinkwater.
By navraag vandeesweek het Chris Swart, senior bestuurder: tegniese dienste by die munisipaliteit, die versekering gegee dat die swaar reëns steeds ’n invloed op die troebelheid het, maar dat dit besig is om af te neem. “Die enigste ander gevalle waar water vuil mag wees, is in die omgewing waar pypbreke herstel is,” het hy gesê.
Swart vra dat gevalle waar die water vuil is, asseblief aangemeld word by tel 044 203 3954. ’n E-pos kan ook na bambies@oudtmun.gov.za gestuur word sodat die oorsaak ondersoek kan word.
(Die Hoorn het Donderdag ’n afspraak met Swart om meer inligting te bekom oor die oorsake van Oudtshoorn se probleme met die troebel water.) (Deur Stefan Skapie Goosen)
Troebel water steeds ’n tameletjie
’n Inwoner se swembad nadat hy dit Saterdag met kraanwater gevul het.