Uit meer as halfmiljoen bedrieg

DIE saak teen ’n vermeende bedrieër van Gauteng, Ronald Dale Harmse, wat ’n sakeman van Oudtshoorn uit meer as ’n halfmiljoen rand bedrieg het, is verlede week in die streekhof vir argumente en uitspraak op die aanklag van geldwassery tot volgende maand uitgestel.

Harmse (50) staan tereg op aanklagte dat hy hom as ’n regspraktisyn voorgedoen het, asook van bedrog en geldwassery.

Hy beken skuld op die eerste twee aanklagte, maar ontken skuld op die aanklag van geldwassery.

Die staat voer aan Harmse het in Februarie 2020 vir Matthys Slabbert uit R535 000 bedrieg deur voor te gee dat hy ’n advokaat is.

Slabbert het verlede week getuig dat hy die geld op Harmse se versoek vir veilige bewaring in ’n rekening inbetaal het wat Harmse aan hom verskaf het en wat volgens hom ’n trustrekening was.

Harmse sou die geld terugbetaal ná ’n bevel van die hooggeregshof.

Volgens Slabbert het hy ’n e-pos aan Harmse gestuur waarin hy hom meegedeel het hy het die geld nodig.

Harmse het hom toe later laat weet hy het die geld in ’n rekening met die naam Casa Blanca inbetaal.

“Ek het tot vandag geen geld ontvang nie,” het Slabbert getuig.

Volgens Slabbert het alle kommunikasie met Harmse deur middel van e-posse geskied.

Hy was ook nie bewus van eiendom wat Harmse glo in Gauteng vir R950 000 gekoop het en waarvoor ’n deposito van R475 000 betaal is nie.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om Harmse op al drie aanklagte skuldig te bevind.

Harmse se regsverteenwoordiger, Wenzel Bo­tha, het egter aan die hof gesê daar is geen voldoende getuienis om Harmse aan geldwassery skuldig te bevind nie.

Volgens hom het Harmse die geld in sy pa se rekening inbetaal en erken dat hy dit gebruik het.

“Die beskuldigde is so skuldig as wat kan kom op die eerste twee aanklagte, maar beslis nie aan geldwassery nie.”

Die saak is deur streeklanddros Sylvia Mandla vir uitspraak op die aanklag van geldwassery en vonnis tot 14 Maart uitgestel.

Harmse bly in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)