Small talk

Deur Tania Smit

“So … watse werk doen jy?”
Ja, dáái blerrie vraag.

Gewoonlik op ’n plek waar almal soos strykplanke regop staan met ’n glas wyn in die hand, en kort-kort wegkyk na nuwe aankomelinge terwyl jy nog praat en hulle probeer maak of hulle nog luister.

Sodat my antwoord jou kan help om my tipe iewers in jou brein te stoor. En ek daar kan staan met al my lae en lae menswees, en jy my kan laat voel soos iemand wat die eerste rondte in Flinkdink uitgeval het.

Of verstom luister asof ek wonderlik is terwyl ek elke dag feilbaar vol foute net my dae probeer oorwin.

So vra my eerder een van die hemelruim vol vrae wat daar is om te vra… Soos wat doen ek om my hart vol te maak? Wat is my lekkerste onthou? Swem ek kaal of met klere? Hoe gaan dit met my lewe? Wie was my lekkerste boyfriend? Watse musiek luister ek? Hou ek van lê-vakansies of sweet-vakansies?

Ek sou jou wou vertel dat my guns­teling kleur pers is, want dis intens en teenwoordig. Ek sou wou sê dat ek die meeste van my lang lens hou, want dan kan ek mense se harte van vêr af onsigbaar afneem, wanneer dit die mooi­ste wys. Ek sou wou vertel dat my bed soos die veiligste plek in die wêreld voel, en dat kinders grootmaak die scarieste ding is wat ek in my lewe gedoen het. En dat ek van eerlike mense hou. En dat ek graag saam met my seun ’n nuwe taal wou leer, en sleg voel dat ons nog nie daarby uitgekom het nie. En dat ek eendag ’n kerkorreluitvoe­ring sou wou gee, al is dit net vir een. En ek sou vir jou wou sê dat ek small talk haat… amper soveel soos verpoepte bestuurders.

Ons sou lank kon gesels, ek en jy. Maar nou vra jy my watse werk ek doen. So ek sal vir jou die boonste laag van my ui afskil, sodat jy kan dink jy weet wie ek is.

En môre sal jy vriendelik groet in die coffee shop, en vir die mense by jou vertel jy ken my, en vir hulle van my boonste laag vertel. En dan sal almal instemmend knik, en as hulle klaar geluister het, dink hulle ken my nou ook, en daarna nog ’n rondte refills bestel. Terwyl ek en my basaarkoek-persoonlikheid in die hoek ’n boek sal gaan sit en lees, en bly sal wees die stoel oorkant my is leeg. In vrede.