Briewe

’n Gebarste waterpyp

Vrydagoggend (6 September) om 08:00 ry ek in Bloemstraat af en sien hoe ons drinkwater die straat afloop. ’n Halfuur later ry ek weer daar verby en steeds loop ’n sterk stroom water die pad af.

Ek skakel toe die munisipaliteit om dit aan te meld. Dadelik word ek vertel dat die gebarste pyp reeds aangemeld is.

Wat vir my snaaks is, is die feit dat daar ’n bord langs die gat gestaan het, met ander woorde daar was reeds men­se by die gebarste pyp. Indien wel, hoe­kom as julle die pyp weer gebloei het, word die water nie opgeneem in ’n waterlorrie nie?

Aan die waterafdeling van ons munisipaliteit. Hanteer asb gebarste pype soos motorongelukke… dadelik! Inwo­ners word beboet wanneer hulle plante ’n bietjie water wil gee, maar julle is laks as dit kom by waterbesparing.
– Philip Goets, Oudtshoorn

Antwoord op Goets se brief

Die Oudtshoorn Munisipaliteit poog om pypbreke onmiddelik te herstel. Eerstens om waterverliese en skade aan eiendom te beperk en tweedens om weer watertoevoer na die omliggende inwoners so gou moontlik te herstel.

Ongelukkig is dit in die proses onafwendbaar dat ons wel water gaan verloor. Ons moet die pyplyn leeg kry om die nodige herstelwerk te kan doen en sodra herstel, moet ons die lug sowel as van die modderwater uit die netwerk kry.

Dit noodsaak ons om brandkrane in die omgewing vir ’n kort tyd oop te maak. Ons probeer wel om dit te be­perk. Die Oudtshoorn Munisipaliteit neem egter kennis van u waarneming dat die water in hierdie geval vir ’n geruime tyd geloop het en maak werk om sulke voorvalle te voorkom.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het die opsie om die spoelwater in watertrokke te tap ondersoek.

Ongelukkig het ons nie voldoende trokke nie en as gevolg van die dringendheid van die herstelwerk is dit logisties nie haalbaar om die water in trokke te tap nie. Neem in ag dat ons nie die skoonwatertrokke kan gebruik vir hierdie doel nie aangesien die water modderig is en ook net vir besproeiing gebruik sou kon word.
– Chris Swart, senior bestuurder,
water en riool by die Oudtshoorn
Munisipaliteit

Munisipaliteit antwoord twee inwoners se waternavrae

Chris Swart, senior bestuuirder, water en riool by die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die volgende antwoorde gestuur op navrae van inwoners wat verlede week in briewe in Die Hoorn gepubliseer is:

Pieter Conradie se brief
(Hoe verklaar u dit II):

Die behoefte van water en ander gepaardgaande dienste word met elke ontwikkeling wat oorweeg word vir goedkeuring noukeurig bestudeer.

Inaggenome dat ons graag steeds ekonomiese groei in die dorp wil hê, sal geen ontwikkeling ondersteun word waarvoor ons nie onder normale omstandighede dienste kan voorsien nie. Van die verbruikers genoem is reeds bestaande verbruikers en vir die ander soos ’n “mall” langs die Calitzdorp-pad gaan die waterverbruik nie noemenswaardig wees nie. Dit is egter ook waar dat alvorens ons nie verdere bronne ontwikkel nie, ons naby aan die punt is waar ons nie nuwe ontwikkelings sal kan oorweeg nie.

Wat betref die Blossoms-projek, is dit duidelik in die tenderdokumentasie gestel dat daar slegs van plaaslike arbeid gebruik gemaak mag word. Kontrakteurs sal net toegelaat word om sleutel- en spesialispersoneel van buite Oudtshoorn te gebruik.

Ons stem volkome met mnr Conradie saam dat dit ’n gesamentlike poging van almal in Oudtshoorn gaan verg om Oudtshoorn se voortbestaan en vooruitgang te verseker.

Pieter Retief se brief (Tuinwater):
Dit is waar dat daar ’n kraak in een van ons ou reservoirs se mure is. Dit is die Ou-Oos-Reservoir net onderkant die tronk. Water lek as die vlak in die reservoir bokant ’n sekere diepte is.

Om dit te bekamp, word die reservoir so bestuur dat die water nooit hierdie vlak bereik nie en so kry ons dit reg om die verliese tot ’n minimum te beperk.

Daar is voorsiening gemaak in vanjaar se begroting om die reservoir te herstel en ons is tans in die proses om tenders in te win vir die herstel.

Die gesuiwerde rioolwater word reeds maandeliks deur die munisipaliteit getoets om te moniteer dat dit voldoen aan die algemene besproeiingsvereistes.

Hierdie toetse kan op versoek aan enige iemand wat sou belangstel, beskikbaar gestel word en dit is dus nie nodig vir individue om self toetse te laat doen nie.

Dit is egter elke verbruiker se eie verantwoordelikheid om te besluit of die water wel geskik is vir die spesifieke gewas wat hy wil besproei.

Sou ons damvlak weer styg, behoort die tariewe vir seker verlaag te word. Bekostigbaarheid is ’n relatiewe begrip en sal sekerlik afhang van elke individu se begroting en behoefte aan ’n mooi tuin.

Ons bly egter in ’n droë en warm gebied wat van nature water-arm is, en soos tereg deur mnr Retief genoem, sal ons dalk ons benadering van die tipe plante wat ons aanplant moet heroorweeg.

Waterskaarste gaan vir seker in die toekoms ’n al hoe groter rol speel – nie net in Oudtshoorn nie, maar wêreldwyd.

Voorsiening van water vanaf Blossoms gaan op sigself nie noodwendig ’n verhoging van tariewe tot gevolg hê nie.

Ons voorsien dat die lewering van water vanaf Blossoms net gaan gebeur as die damme nie in ons behoeftes kan voorsien nie, dit wil sê slegs tydens tye van waterskaarste wanneer droogtetariewe in elk geval geld.
– Chris Swart, senior bestuurder,
water en riool by die Oudtshoorn
Munisipaliteit