■ Bring die doodstraf terug. Kan ons nie as land stem nie?
■ Oumense moenie op ons sypaadjies stap nie; dis lewensgevaarlik. Ek het my arm oopgeval. Van Silver Foxie
■ Baie dankie en geluk aan die Polisie vir die flink en ferm optrede tydens die onlangse “bierfees” in Langenhovenweg. Nou wil ek graag weet hoekom dieselfde nie gedoen is met die “bandebranders” op die De Rust-pad nie. Is dit dan nie ’n misdaad nie? Die D in SAPD staan tog vir diens. Pieter.
■ My kleinkind het gister (Maandag) verjaar; toe stuur ek my dogter dorp toe om lekkergoedjies, o.m. koekies, te koop. Nadat ek en van die kinders van die koekies geeët het, was my maag baie omgekrap! Toe sien ek dat die een pakkie (31-1-2019) en die ander pakkie (28-2-2019) verval het! (200 g Rainbow Man-koekies.) NS: Ek het nog van die twee pakkies se koekies.
■ Die weermag kan gerus maar ’n lang laning bome binne hulle lendelam draad plant, in plaas daarvan om die plek net verder te vernietig. Wat ’n lam houding om die plant van een boompie te weier!
■ Baie, baie dankie, Whitney, Pieter en span vir skoffel en skoonmaak in St Georgesstraat. Dit word gesien en opreg waardeer. Die wat rommel strooi, moet beboet word. Ons is trots waar ons is en elkeen kan ’n verskil maak in ons pragtige dorp. Carien Stander
■ Ek was geskok na gister se besoek aan die Rust en Vrede Waterval na ek gesien het mense maak bo by die waterval vuur aangesien daar alreeds so baie veldbrande was. (Die sms het die registrasienommer van die voertuig wat na verneem word betrokke was, bevat/ Die Hoorn het dié registrasienommer – ’n CG-nommer – aan die Oudts-hoorn Munisipaliteit deurgegee. – Redakteur)
■ Daar is sowaar blykbaar mense wat van die mooi klippe waarmee die ingang van Oudtshoorn vanaf Calitzdorp versier is, steel. Hoekom op die aarde steel jy klippe wat jou dorp mooier maak? Hoop hulle word vasgetrek.

■ Mnr Japie Coetzee, wat in 1995 as prinsipaal van Bergsig uit diens getree het, het verlede week weer ’n draai by die skool gemaak toe hy tydens die byeenkoms ’n landsvlag wat Maandae gehys word, oorhandig het. Hy het tydens die oorhandiging verwys na die verskillende kleure wat saam ’n eenheid vorm om die landsvlag voor te stel. So moet elke leerder, elke ouer en elke opvoeder ook daarna strewe om ’n “Bergsig-eenheid te verseker, ’n eenheid in diversiteit”.

REUSE LEMOENE! Bart Vosloo van Oudtshoorn met ’n reuse-lemoen van 1,5 kg wat hy van ’n lemoenboom by sy huis gepluk het. Hy sê die boom, wat gewoonlik gewone lemoene dra, het vanjaar vyf groot lemoene gedra waaronder dié lemoen wat teenaan die stam onderstebo gegroei het!