Deur Reinderd Visser
In verlede maand se uitgawe: Oor ’n periode van drie maande het die geallieerde magte ten minste ses keer probeer om die Butte de Warlencourt te verower, maar elke keer sonder sukses. Die Springboks sou tussen 12 en 18 Oktober 1916 by twee van die ses probeerslae betrokke wees… en hulle sou nie eens naby kom nie! Vier slagoffers uit die Oudtshoorn-omgewing sterf hier. Die eerste was sers James Parker (33), wat die nag van 16/17 Oktober tydens voorbereidings van loopgrawe naby die front sterf toe hy waarskynlik deur skrapnel getref is van ’n bombardement van die vyand. Meer oor die ander drie in vandeesmaand se storie.
18 – 20 Oktober 1916
En toe gebeur 18 Oktober.
Die Springboks moes op hierdie dag weer probeer om die Duitse loopgrawe voor die Butte de Warlencourt – ’n piepklein heuwel (’n butte in Frans) naby die dorp Warlencourt in Frankryk – in te neem. En daarná die Butte sélf indien moontlik.
Byna voorspelbaar het dit die vorige nag hard en onophoudelik begin reën. Loopgrawe was byna heupdiep modderbaddens, en die kleierige deur bomkartetse omgedolwe niemandsland waardeur hulle sou moes aanval, het met al die reënwater nie beter gelyk nie.
Die aanvallers het vroegoggend om 3:40 in gietende reën die niemandsland ingestap.
Daar was drie kompanies van die 1ste Regiment in hierdie eerste aanval betrokke – Alfa, Bravo en Charlie Kompanies. Delta sou later volg.
Ek gaan nie doekies omdraai nie; dit was ’n slagting!
Charlie Kompanie het hom dadelik in doringdraad en akkurate masjiengeweervuur vasgeloop en uiteindelik kon net 31 van die 100 manskappe weer hul eie loopgrawe bereik. Alfa en Bravo het dit nog erger gehad. Hulle het ironies genoeg té goed gevorder en met die vyand se loopgrawe nie meer duidelik onderskeibaar nie, het hulle hul teikens verbygesteek!
Hulle was skielik omring deur die vyand en het nie ’n kans gehad nie! Op ’n gelukkige 30 of so na, wat óf gevange geneem is, óf besig was om self Duitse gevangenes terug te neem, het álmal verder gesneuwel!
Twee jong manne van die Klein Karoo was in Bravo Kompanie en het daar gesterf – hulle was John Strydom (18) van Hoogstraat, Oudtshoorn (’n oorlewende van Delvillebos), asook Louie Benn (20) van Calitzdorp.
Delta Kompanie het die agtermiddag om 17:45 aangeval. Hulle het ook die Duitse loopgrawe bereik, maar is van die heuwel af met masjiengeweervuur bestook en weer eens het net ’n paar die slagting ontkom.
William Rainier (sy naam staan ook op die bronsplaat in die Anglikaanse Kerk op Oudtshoorn) is tydens hierdie aanval ernstig gewond en na ’n hospitaal in Engeland geneem. Daar het hy op 6 November aan sy wonde beswyk.
Op 19 Oktober was daar nog skermutselings en meer ongevalle en op 20 Oktober is die moeë oorblywendes onttrek.
Een van my vrae aan die onbekende soldaat in België was: Was die prys wat jy betaal het die moeite werd?
Tussen 12 en 24 Oktober is 3255 soldate van die 9de Divisie (waarvan die Springboks deel was) byna ’n klipgooi van die Butte de Marlecourt ge-wond, gevang of gedood. 1150 hiervan was Suid-Afrikaners (byna die helfte van die SA Brigade). Die totale getal ongevalle ná die ses onsuksesvolle pogings deur die verskillende divisies was meer as 5000!
Ook hier is my vraag: Was hul dood of verminking die moeite werd? Dít, ter wille van’n heuwel van 45 meter in deursnee en 20 meter hoog?
Ek wonder tog.
En ja, hulle is almal met nuwe offisiere en troepe vervang.
Bronne:
John Buchan – The History of the South African Forces in France; Chris Schoeman – The Somme Chronicles; Tim Couzens – The Great Silence.

Die Butte de Warlencourt soos dit vanaf die Springboks se kant gelyk het. Foto: Reinderd Visser