Rus in vrede, Booi

Booi Konstabel (met die ligte baadjie) hou trots ’n sertifikaat vas vir voortreflike uiesaadproduksie. Saam met hom is Johannes Fortuin, Frans Everts, Malcolm van Wyngaardt en Daniël Fortuin. Foto verskaf

Die begrafnis is gereël vir Sondag 13:00. Die Klein Karoo-son brand genadeloos op die deurmekaar groep mense agter die Weyers Memorial-kerkie in Lategansvlei neer. Hans het gesê die diens gaan maar buite wees, want met die Covid is daar te veel mense vir binne-in. Nou ja, dan maak ons so. Ds Moos behartig die diens en die klomp mense staan strak en stil. Ons begrawe iemand wat ons almal geken het. Dit is nooit aangenaam nie.
Ek gaan twee weke terug…

Die manne het daardie Maandag soos gewoonlik ’n harde dag se werk ingesit en almal is uitvaltyd stowwerig en moeg gewerk huis toe. Ek groet die manne wat naby staan met so kollektiewe “Ok, manne, ek sien julle môre”. Soos gebruiklik. Want ons sien mekaar mos maar môre. Soos gebruiklik.

Die volgende oggend kom ons ouder gewoonte in die werkswinkel bymekaar om die dag op die regte manier “oop te maak”. Die span skuifel stil-stil in, elkeen op sy gebruiklike plek. Ek merk op hul gesigte is ongewoon strak, maar dit gebeur soms as ons ’n kokende warm dag in die vooruitsig het. Plaaswerk is soms baie harde werk en nie kinderspeletjies nie.

Die manne sê my Booi het afgesterwe in die nag. Wat?

Ek swaai om en kyk na die plek waar hy elke oggend staan – regs agter my.

Sy plek is leeg. Ek is heeltemal oorbluf… Wat gaan aan?!

Die gebeure van die vorige aand kom in sukkelende en stotterende paaie­mente uit.

Booi is in die nag met die ambulans hospitaal toe, blykbaar met asemhalingsprobleme en borspyne. Dit is akademies wat nou eintlik fout was, want so twee ure later het die Polisie opgedaag en sy gesin kom inlig dat hy oorlede is.

Toe die realiteit daarvan insink, kyk ek en Andries mekaar verbaas aan. Al wat ek kan uitkry, is iets soos: “Nee, man! Dit is nou ’n gemors. Wat ’n gatslag!”

Ons stuur die manne uit en dit neem so 30 minute om tot verhaal te kom. Meer vrae as antwoorde…

Booi Konstabel was my voorman op die plaas – en ’n goeie een. Hy was ’n integrale rat in die masjien op ons plaas. Hy het werklik voor gevat met alles – met die reëlings van werkers, die natgooiprogramme, die admin van die tydelike werkers, die naweekwerk, probleme met tydelike werkers se bankrekeningveranderinge (en dit is baie), opspring in die nag om waaiers by die droogstore af te skakel en veral al die pyp- en waterdinge. ’n Lang lys verantwoordelikehede.

Vir sy gesin wat agterbly sonder hulle pa: Onthou hom vir alles wat hy reg gedoen het. Wees maar hartseer, dit is reg so. Gelukkig waai die wind van die tyd die omgekrapte emosies oor die jare weer glad en lewe hy aan in ’n ou se gedagtes. Ons sal hom vir altyd ont-hou en gereeld aan hom dink. Julle pa was ’n yster.

Booi was nege jaar lank ’n deel van my span en ’n belangrike deel van ons almal se lewens. Dis ’n lang tyd. Ons het baie goed klaargekom en hy was werklik my regterhand. Hy het my goed verstaan ook. Ons almal gaan hom geweldig baie mis. Sy plek langs my in die oggend gaan leeg wees.

Hulle sê mens kan nie besluit hoe en wanneer jy gaan doodgaan nie. Dit is waar. Maar jy kan wel besluit hoe jy gaan lewe. Dit is ook waar. Booi het sy kant gebring, sy lewe was net te kort. Hopeloos te kort.

Hy was maar 43 jaar oud. Ons moet maar vorentoe gaan met ’n glimlag, ons koppe optel en aangaan aan met die lewe. Ek dink hy sou dit so wou gehad het.

Ons staan in die Sondagson langs die oop graf soos ek al vele kere in my lewe by ander begrafnisse gedoen het. Romana het ’n pragtige gerf wit lelies en ander wit blomme saamgebring. Pragtig. Dit tref my hoe klein die kis is.

Booi was ’n klein outjie – maar het vir niemand teruggestaan wanneer dit by fisieke werk kom nie. Hy mag miskien klein gewees het, maar sy gees, persoonlikheid, verantwoordelikheid, wilskrag en motivering was reusagtig en het baie groot manne stof in die oë geskop.

Ai tog. Ons gaan jou mis, Booi. Rus in vrede, ou maat. Jy het goed gedoen.