Rubriek: Moedelose Moederhen – Return policy vir tieners

Ek sien onlangs my ginekoloog by ’n koffiewinkel en dink so by myself, ek wonder of hy ’n return policy het. Ek – die ma van drie besige, gesonde kinders, waarvan twee tieners is het al menigmaal gedink ek wil hulle teruggee. Nie omdat ek nie lief is vir hulle nie. Ek sal doodgaan vir hulle, maar soms hou ek nie baie van hulle nie.

Ek het so uitgesien na die dag wanneer my kinders uiteindelik tieners sal wees om lekker saam met hulle “groter” mense dinge te doen, die grappies wat ons gaan maak, dinge saam aanpak en hulle net geniet.

Wat ek het is grotmense wat heeldag sit en brom, voor die TV wil lê, amper doodgaan as ek hulle vra om net hulle skottelgoed in die wasbak te gaan sit en mekaar gereeld óf verskreeu óf byna met die vuis bydam. Ek kon darem intree voor dit gebeur, maar flip, wat het met hulle gebeur? Ek was ook ’n tiener – was ek ook so?

Dis nie net by die huis tussen vier mure nie. Dit sluit al die bollie uit wat hulle by die skool aanjaag en narre in die klas wil wees. Daar is strafpunte vir onvoltooide huiswerk nadat daar hoog en laag belowe is dit is klaar of hulle het nie huiswerk nie.

Dan kom die eksperimente met sigarette en vapes en, behoede my, dalk ook ander dinge. My een kind het vir my vertel hoe praat kinders onder mekaar van sekere meisies wat reeds dinge doen wat ’n “professionele” dame sal laat bloos.

Die gesegde lui: Trou is nie perdekoop nie, maar liewe hel, kinders grootmaak is ook nie – veral nie in vandag se tye nie.

Ek judge regtig nie. As jy as grootmens jou gummies wil eet of jou papagaaislaai geniet, doen wat vir jou werk, whatever floats your boat. Al wat ek probeer sê, is dat dinge soveel makliker bekombaar is vir kinders as toe ons kinders was. Hulle word al jonger en jonger daaraan blootgestel.

Influencers wat simpel goed doen en miljoene views kry, word nageboots, want dis cool. Dis aanvaarbaar om sosiaal onaanvaarbare dinge te doen want die TikTok-ster doen dit en maak miljoene.

Afgesien van sosiale media, WhatsApp-groepe of die duisende platforms waarop kinders mekaar spot, video’s versprei en skinder, kry kinders nie meer die kans om kind te wees nie. Om nie eens van eksplisiete materiaal te praat nie – PG13 deesdae erger is as wat Emanuel op ETV was.

Ek klink seker ook nou soos ons ouers en voorouers wat gevra het wat gaan van die kinders word. Ek weet nie of hulle gaan okay wees nie, want vandag is die wêreld daar buite groter, die seer is erger en die tools waarmee kinders gebombardeer word, is skerper.