
Hulle sê die lewe van ’n vlieënier is lang vervelige tye waar niks gebeur nie wat soms onderbreek word deur oomblikke van erge spanning en konsentrasie. Daar is mense wat sê angs – maar dit glo ek is beskore vir die passasiers! Dit is seker nie heeltemal waar nie, maar die lang tye met jou eie gedagtes in die lug is wel waar en ek het dit altyd geniet.
Daar kry jy tyd om te dink sonder om gepla te word. So dink ek eenmaal aan die risiko van vlieg … en my gedagtes neem die loop.
Wanneer dink ons aan iets as ’n “groot risiko”? Eintlik is dit maar hoe ons iets beskryf waar dinge maklik of heel waarskynlik gaan skeefloop en sleg uitwerk en die fokus is tipies op die negatiewe uitkomste en nie die positiewe geleenthede nie. Seker so. Die lewe is maar die hele tyd ’n riskante besigheid.
Ons almal moet ’n verskeidenheid risiko’s in die gesig staar elke dag – sommige groter as ander. Ons weeg deurlopend hierdie risiko’s op en maak ons besluite bewustelik of sommer sonder om te dink – van groot beleggings maak tot oor die pad hardloop. Risiko impliseer onsekerheid, en dit beteken natuurlik ’n gebrek aan inligting.
Daarom kyk jy heen en weer voor jy oor die pad loop – die risiko is veel minder as jy weet watter verkeer op pad is. Soms is risiko suiwer ’n persepsie – en die ou mensdom is tog so goed daarmee, met ander woorde, om indrukke en feite op te maak waar niks is nie. Risikobestuur begin deur te erken dat daar risiko is. Maar, soos die ou mensdom maar is, word deurdagte beplanning soms goedsmoeds vervang deur ’n dom maar doelbewuste taktiek van ontkenning.
Die ding is … mense neem omtrent nooit besluite gebaseer op die werklike risiko’s nie. Dit gebeur altyd op die besluitnemer se persepsie daarvan. Hierdie risiko’s moet bestuur word want hulle kan selde indien ooit heeltemal elimineer word. Besluite sal tipies beter wees wanneer spesialiste – hulle word deesdae na verwys as “kenners” – se berekeninge, ervaring en kennis in ag geneem word. Maar aan die anderkant, indien die oningeligde massa se persepsie, hoe verwronge ookal, nie in ag geneem word nie kan dit lei tot ’n situasie waar goeie besluite afgemaak gestuit of omgekeer word. Klink dit bekend?
Daar is allerhande risiko’s – van die risiko van fisiese skade of besering aan die een kant tot finansiële- en besigheidsrisikos aan die anderkant. Risiko, wanneer dit uitgedruk word as ’n bereke-ning gebaseer op geskiedkundige data is natuurlik maklik en heel haalbaar as daar akkuraat rekord gehou word.
Interessant genoeg, in die vroeë 2000’s in die VSA was die geskiedkundige risiko om te sterf (per 100,000 mense); 271 weens hartkondisies, 300 as gevolg van sigarette rook en 15 weens motorongelukke. Opmerklik laag was die kans om deur ’n vliegtuig wat val getref te word, naamlik 4 per 100 miljoen populasie terwyl die kans om deur ’n meteoriet getref te word 10 maal groter is teen 4 per 10 miljoen mense. Voor jy begin kopkrap, hou in gedagte hoe dit bereken word – aantal insidente gedeel deur die totale populasie en daar is noodwendig ’n groot klomp faktore wat ook ’n rol speel. Mark Twain het juis gesê: “Facts are stubborn things, but statistics are pliable”.
Vir eers net ’n bietjie fokus op kwantifiseerbare risiko’s. Een van die dinge wat Bedryfsingenieurs gereeld doen, is om risiko te moet kwantifiseer – sodat dit ’n “tasbare” numeriese waarde kry wat dit meet. Sodra jy syfers het kan jy daarmee somme maak. Bestuurders werk met syfers – want soos hulle sê, as jy nie meet nie sal jy nie weet nie. Onsekerheid kan in syfers omgesit word danksy veral die waarskynlikheidsteorie en natuurlik ’n hele spul gepaardgaande- en onderliggende metodes, beginsels en tegnieke uit die statistiek.
Waar statistiek tipies eintlik maar gaan met die ontleding van vorige gebeure en geskiedkundige data, word die waarskynlikheidsteorie gebruik om onder andere die voorspelling van die kans op toekomstige gebeure of uitkomste te maak. Daarin lê die groot verskil – dit is relatief maklik om rekord te hou en daarmee allerlei berekeninge te doen en afleidings te maak, maar om uitkomste in die onseker toekoms te probeer vooruitskat en kwantifiseer is baie meer kompleks. Die verskil tussen dit wat gebeur het teenoor dit wat ons dink gaan gebeur.
Hoe word dit gedoen? Die antwoord lê in mo-dellering, een van die Bedryfsingenieur se vele instrumente in sy repertoire van virtuele instrumente. Jy “bou” ’n model van een of ander aard om die sisteemdinamika hanteerbaar en werkbaar te maak – en dit kan strek van fisiese modelle, wiskundige modelle of simulasiemodelle – veral vir wanneer die interaksies van die substelsels te kompleks raak en die wiskunde wat dit beskryf onhanteerbaar kompleks raak. Sulke modelle stel jou in staat om te eksperimenteer met vele vlakke van insetparameters om sodoende oorsaak/gevolg verwantskappe te probeer isoleer – op ’n nie-destruktiewe, relatief goedkoop en vinnige manier. Klink na iets wat kan werk nê?
Volgende keer vertel ek van twee uiteenlopende voorbeelde waarby ek betrokke was – voordat ons moet land by ons bestemming! (Deur Johan Strasheim)
