Ek maak my oë toe omdat ek dit nie wil aanskou nie. My gedagtes flits terug en my lewe spoed by my verby oor al die herinneringe wat ek oor al die jare oor treinstasies gehad het.
Sover ek kan onthou was treine al bekostigbare vervoer in daardie tyd. Daar was goedere- en passasierstreine. Tussen elke dorpie was daar partykeer ’n hele paar klein stasies waar die treine moes stop vir op- en aflaai. My ouer broers en susters moes per trein kom en gaan na hulle werk- of universiteit. Ek het altyd saam met my pa gegaan as hy moes stasie toe. Die aande was altyd vir my wonderlik wanneer al die ligte brand, veral in die eetwa met wit gedekte tafels en kelners met swart uniforms en flink bediening.
Toe ek vier jaar oud was, was daar ’n groot opskudding. Almal het gehoor dat die Koningin van
Engeland en haar twee dogters (prinsesse), Suid- Afrika toe kom en in Oudtshoorn gaan aandoen. Ek het saam met my ouers die gebeurtenis bygewoon. Die tuine is mooi uitgelê en pragtige blomme is geplant. Die mense was so opgewonde om die koninglikes te sien, en naruurlik, vir my was dit ’n belewenis!
So het my droom, om ook trein te ry en in die eetwa te eet en natuurlik om in ’n kompartement te slaap eers toe ek getroud is ’n werklikheid geword. Ek was een van die Westelike Provinsie se gimnastrade spanlede en ons het in verskillende provinsies gaan meeding. Natuurlik moes ons per trein ry. Dit was nie eers ongerieflik om ’n kompartement met nog vyf vrouens te deel nie. Ek hoor nou nog die geklik-klak van die wiele op die spore.
Dit was wondelike tye waarvan nou nog net mooi herinneringe oorbly as ek tot die werklikheid terugkeer en besef dit was goeie tye. (Deur Mona Brittnell)
Stasies en treine
