Kingdom News: Die Here is nou hier

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

Hoop in die donkerte reeks 2:
Ek gesels tans met jou oor ’n groot geloofsworsteling. Baie Christene, net soos die profeet Habakuk ook, worstel met die eeu-oue dilemma van waarom God toelaat dat dinge gaan soos dit gaan.

Waarom doen die Here nie iets aan al die probleme, geweld en ongeregtigheid nie? Dinge gaan elke dag agteruit en ons wonder waar God in die prentjie inpas. Habakuk het ook gewonder en hiermee geworstel. Kom ek gee net weer die agtergrond:
Ongeveer 2 600 jaar gelede, was daar ’n profeet in Juda met die naam Habakuk. Hierdie profeet het ’n groot dilemma beleef. Die ryk was verdeel tussen die noordelike ryk, Israel en dan die suidelike ryk, Juda. In albei van hierdie ryke, het goddelose konings geheers, daar was geen wet en orde nie, mense het onder mekaar gestry en baklei en daar was geweld en vernietiging. God se sogenaamde spesiale mense was in wanorde en het hulleself weggedraai van God af. Hulle het nie meer God se wette en verordinge gevolg nie.

Boonop was daar die groeiende gevaar van die Galdeërs, ’n wrede en verwoestende nasie wat gebiede ingeval het, mense voor die voet dood-gemaak of gevange geneem het en weggevoer na ballingskap. Oor ’n kort tydperk, ongeveer 11 jaar, sou Jerusalem verwoes word, die tempel vernietig word en God se mense in ballingskap weggevoer word na Babilonië.

Dit was nie ’n goeie tyd in die geskiedenis van God se spesiale mense nie. Profete soos Habakuk en sy tydgenote Esegiël en Jeremia, was die spreekbuise tussen God en Sy mense, maar anders as die ander, was Habakuk, soos ons noem, ’n “biddende profeet”. Dit beteken dat Habakuk met God gepraat en met God geworstel het namens die mense in stede daarvan dat hy vir die mense vertel wat God vir hulle sê. Habakuk het met ’n baie groot geloofskrisis gesit: Hy het God glad nie ervaar nie. Dit voel vir hom asof God Sy mense verlaat het en dat God geensins geluister het of ag geslaan het op die wekroepe en versugtinge van die mense nie. Alles was buite beheer en God was nêrens te vinde nie. God was stil.

Habakuk het hom tot die Here gewend in daardie verskriklike uitdagings en tyd van wetteloosheid:
“Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?” In Habakuk se eerste hoofstuk is die klagte teen God die volgende: “God is NOWHERE”.

Wanneer ons egter na hoofstuk twee kyk en begin lees, sien ons dat Habakuk se geloofspers-pektief begin verander van “God is NOWHERE” na “God is NOW, HERE”.

Met vandag se skrywe, deel ek graag met jou een van die diepste sleutels vir geestelike groei. As jy Habakuk se tweede hoofstuk verstaan, sal dit jou uitkyk of geloofsperspektief verander sodat jy in voorspoed en in uitdagende tye van teënspoed onwankelbaar saam met die Here bly wandel en verstaan wie Hy werklik is en wat Hy doen.

Ons sien hier dat Habakuk iets doen wat so noodsaaklik is. Hy neem ’n geloofsbesluit om op te staan, posisie in te neem en op die Here te wag!

“Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.” Hab. 2:1

Iemand skryf soos volg hieroor: “When we are tossed and perplexed with doubts concerning the methods of Providence, are tempted to think that it is fate, or fortune, and not a wise God, that governs the world, or that the church is abandoned, and God’s covenant with his people cancelled and laid aside, then we must take pains to furnish ourselves with considerations proper to clear this matter; we must stand upon our watch against the temptation, that it may not get ground upon us, we must set ourselves upon the tower, to see if we can discover that which will silence the temptation and solve the objected difficulties, we must go into the sanctuary of God, and there labour to understand the end of these things we must not give way to our doubts, but endure to make the best of our way out of them.”

Habakuk doen dit wat elkeen van ons as God se kinders ook behoort te doen, in elke omstandigheid, wanneer die son skyn, wanneer die wolke van onheil rondom ons toetrek, waneer jy deur ’n diep donker dal stap of langs groen weivelde jou rus vind. Habakuk sit vir homself ’n wagmuur op, ’n geestelike wagmuur. ’n Plek van hoogte waar hy op die Here sal wag en bly wag.

Ons probleem is dat ons soms eerder op dienslewering wag. Ons wag op antwoorde, ons wag op verandering van ons situasies, ons wag op dit wat ons voel moet gebeur, ons wag op beter dae, beter geleenthede en ’n beter toekoms.

Wanneer ons egter op die Here bly wag, het ons ’n geloofsperspektief wat anders is. Dan wag ons nie op dienslewering nie, ons wag nie dan op gesondheid of reën nie. Ons wag nie vir die vervulling van een of ander Bybelteks of belofte nie, ons wag selfs nie dat gebede beantwoord moet word nie, want God is dit alles. Jy sien, Hy is die antwoord, Hy is die oplossing, Hy is die reën, Hy is die genesing. Het ons dit dan nog nooit besef en verstaan nie? Ons wag nie op dienslewering nie want God is nie die verskaffer van religieuse dienste nie. Hy is ons Vader en Hy weet wat ons nodig het. Hy sal in al ons behoeftes voorsien!

Habakuk ontdek dat God genoeg is. Die skrywer van Klaagliedere verklaar ook:
“Die Here is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek. Dit is goed om geduldig te wag totdat die Here ons red.” Kl. 3:24.

Die Here se woord aan Habakuk is: Kom tot bedaring en wag op my. Ek is nou hier en Ek is genoeg. Jy dink Ek is afwesig, Habakuk, jy dink dat Ek nie omgee oor wat gebeur nie. Jy dink Ek is ’n onbetrokke God, maar laat Ek jou dit vertel. En dan kom die Here en gee aan Habakuk die volgende beloftes waarvan ek enkeles aanhaal:
“Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie, wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur ’n ramp oor sy familie gebring het, hy wat vir hom ’n hoë nes wou bou juis om ’n ramp vry te spring. Ellende wag vir hom wat ’n stad bou met moord, wat ’n dorp aanlê met onreg.

Ellende wag vir hom wat vir ’n stuk hout sê: “Word wakker” of vir ’n dooie stuk klip: “Staan op!” Kan ’n afgod jou iets leer?” Hab. 2:6,9,12,19.

Ons moet onthou, “God’s delays are not God’s denials…” Selfs al twyfel ek, sal ek kies om op die Here te wag, selfs al sien ek geen weg vorentoe nie, weet ek Hy sal ’n weg maak. Wanneer ek hoop wil verloor, besef ek met die Here is daar altyd hoop. Wanneer ek bang en onseker voel, weet ek die Here sal my nooit verlaat nie.

Here, ek het gedink U is nêrens, maar Here, ek weet nou U is hier. Dit is en bly my geloofsperspektief. (Deur Francois Mattheüs)