Prins Albert my huis

Poem Mooney skryf oor sy geboortehuis en ander huise

Ons het elke vakansie Prins Albert toe gery. “Huis toe,” het my ma gesê. Sy, my ma, het ’n ding gehad met dié uitdrukking – en met die verloop van jare het ons (haar kinders) en al ons nako­melinge die sêding van my ma geëien.

Ons het ’n familiehuis op Prins Albert gehad. Ebenhaeser, die huis wat my oupa, Gert Johannes Jakobus Balie, sy seuns en aanverwante familie staan­gemaak het. Dit was ’n huis met ’n ingeboude karakter, maar meer belangrik, ons (al die kleinkinders met familiena­me) is in daardie huis gebore. Oupa het die huis Ebenhaeser genoem.

Toe ek ouer word en besef ek kon met woorde speel, het ek ’n gedig oor daardie huis geskryf. Die titel van die gedig het God se hulp met die bou­werk vergestalt.

In die gedig Ebenhauser praat ek van die belangrikheid van ’n eerste kennismaking met die geborgenheid van my geboortehuis.

Ebenhaeser:
Ek het die eerste lewenslig aanskou
in ’n muurhuis op Prins Albert.
Die bakstene gemaak uit die moergrond,
klewerige rooi Karoogrond
uit ’n kleigroef
op Karoolskraal.

Mans, vroue en kinders was betrek
by die familieonderneming
te Nuwerus
net buitekant die dorp
waar my naelstring begrawe lê.

My oupa was die eienaar van die bedryf
as patriarg was hy steenmaker
messelaar, skrynwerker
en by tye handlanger
in eie reg.

Sy seuns was opgelei in feitlik elke ambag,
onder toesig van dié formidabele
mees­terbouer.
Die familiehuis is deur hulle staangemaak
op hierdie nedersetting
waar die meeste kleinkinders
veral die ouer seuns en dogters
met familiename gebore is.

My oupa was die baas
van sy eie onder­neming.
’n Trotse pa vir sy kinders,
stamvader
en ouderling in die gemeente.
My ouma: moeder vir haar kinders,
klein en agterkleinkinders,
’n regop trotse tuisteskepper.

Ons was ’n baie hegte familie. Die prentjie wat my helder voor die gees kom staan, was die huisgodsdiens na afloop van elke dag se harde werk.

Al die mans wat deel was van die Balie-familie, hulle vroue en kinders was teenwoordig. Bekende gesange is met oorgawe gesing en die mans, vroue en kinderstemme in volmaakte harmo­nie het my al die jare bygebly. “Daar is Jesus my verlange” en

“Teen elke storm­wind wat hier woed, wees my leids­man o Jehova wyl ek hier as pelgrim swerf…” het die wonderlikste atmosfeer in daardie ouerhuis geskep. En dit is asof ek vandag nog hoor hoe my oupa uit die Nederlandse Bybel voorlees en die gebed met die bekende inleiding: “gelykt die blomme op die veld zij wende naar de zon, zoo is ons oog op U gericht, op U de levensbron…”

Ek het daardie prentjie in ’n tweede gedig soos volg saamgevat. In dié gedig het ek geweet hoe ’n huis moes lyk. En hier praat ek van ’n huis met ’n siel. Dit was lank nadat die huis op Nuwerus afgebreek is tydens die gedwonge verskuiwings. Ek het probeer om al die ele­mente in die tweede huis in te bou.

My oupa en sy seus het Boland toe ge­trek, De Doorns toe. Hulle moes daar ’n nuwe huis bou. Die huis op De Doorns was ’n groot huis. Eintlik ’n hoofhuis met ’n lang stoep aan die ag­ter­kant waar vertrekke was vir sy seuns en dogters wat moes swig voor die gedownge verskuiwings.

Selfs hierdie nuwe huis het nie vir lank ’n familiehuis gebly nie, want die families moes trek agter werk aan, Wor­cester toe van waar hulle verspreid geraak oor die Kaapse Metropool. Die tweede huis, die prentjie van daardie huis was in my gees en wese ingebrand.

Ek het daardie prentjie soos volg vasgevat:

My huis
Skaam gaap die vensters
van my bleek huis in die donker;
die bome op die erf se buiterand
bewakers van my stil bleek fort:
oeroue eike, bloekoms, populiere,
wagte wat my kinders
en myself beskerm in die nag.
Die waenhuis aan die skadukant
’n skans, selfs teen voorspieëling.
En in my huis se hart
flikker daar ’n olielamp
en word die bloedsomloop van lense
hier aan die gang gehou
in ’n intieme kring, wat met
die helder klank van kinderstemme meeding
om die sekerheid van lewe
hier aan die binnekant te stimuleer.
Nou sit ons knus
geborge
sonder sorge sit ons in die voorhuis
waar die helder lamplig flikker
net soos die sterre buite knikker
deur die venster
van my stil skaam huis.

Ek dink baie oor die eerste huis op Nuwerus. My oupa het op die gewel voor die deur, die naam Ebenhaeser geverf met die jaargetal 1940. Dit was in daardie stadium na vele trekke deur die Karoo ’n belangrike baken wat hy vir sy familie opgerig het, want Ebenhaeser beteken “verleende hulp”. Die ge­denksteen op die gewel bokant die voordeur sou sy kinders altyd herinner aan waar hul hulp vandaan kom. Dit is eintlik ’n Hebreeuse woord en die naam is geneem uit 1 Samuel 7:2, me­nen­de “tot hiertoe het die Here ons gehelp”.

Ek wonder baie keer of Oupa gedink het die huis op Nuwerus sou vir ewig bestaan? Of het hy geweet dat hy op een of ander tydstip weer verder moes trek.

Op Nuwerus, die woonbuurt waar die familiehuis gebou is, het die Balies gebly. Oompie Gert en Niggeltjie Malie, saam met hulle seuns en dogters.

Die seuns het Balies gebly en die dogters het die trouvanne van hulle mans aangeneem: Goliaths, Mooneys, Gelante en Esterhuizen.

Ons was gelukkig om ’n motor te hê en ons kon nog vir jare kontak hou met die families op Prins Albert. Ons kon gereeld oor en weer kuier en by begrafnisse van baie van die families wat ook maar aan ons verwant was, in gesprekke agterna, die heimwee optel na Prins Albert en haar mense.