DAAR is min tyd oor vir die ou Sassa-kaart, sê die Poskantoor in ’n verklaring.
Volgens die Poskantoor is daar landwyd sowat 600 000 SASSA-begunstigdes wat nog nie na die nuwe goue Sassa-kaart oorgeskakel het nie. In die Wes-Kaap is daar 77 000 begunstigdes. Die begunstigdes moet voor die einde van November 2018 oorskakel. Die ou wit Sassa-kaart verval aan die einde van die jaar.
Die prosedure om die nuwe goue Sassa-kaart te kry is eenvoudig. Die begunstigde gaan na enige poskantoor toe wat Sassa-kaarte verskaf, wys ’n identiteitsdokument en kry dan die nuwe kaart binne minute.
Begunstigdes wat nie beweeglik is nie en nie by ’n poskantoor kan uitkom nie, kan Sassa se tolvrye foonnommer skakel – 0800 60 10 11.
Rian de Jager, kleinhandelbestuurder van die Poskantoor in die Wes-Kaap, sê die kontrak tussen die Poskantoor en Sassa het ’n einde gemaak aan die ongeoorloofde aftrekkings vir miljoene begunstigdes. Geen aftrekorders is moontlik op die nuwe Sassa-kaart nie.
Die nuwe Sassa-kaart maak dit moontlik om die volle toelaag sonder enige transaksiekoste te gebruik. Daar kan maandeliks ’n kostevrye kontantontrekking by enige poskantoor gedoen word, en daar is geen beperking op die aantal transaksies waar die kaart as debietkaart by winkels gebruik word nie.
Die kaart kan ook by enige kitsbank gebruik word, maar die bank sal dan bankkoste op die transaksie hef.