Poem onthou die peperboom in Oxfordstraat

Die ou peperboom waarvan Poem Mooney vertel, staan vandag nog in Oxfordstraat.

Ek het verlede week in Oxfordstraat afgestap. Gewens ek was ’n skilder, dan sou ek die straat kon inklee, met mense en met huise.

Ek sou ook graag die peperboom in Oxfordstraat wou skilder. As ek ’n fotograaf was, sou ek die mooiste foto’s van die daardie boom kon neem.

Miskien moet ons die boom vereer. Byna soos ’n monument, met ’n naamplaat waarop die mense wat hier gewoon het, se name verskyn.

Almal van ons wat hier gewoon het, het in die skadu van hierdie boom grootgeword.

Ek inkluis.

Ek het gewens die boom moet praat. Vir ons vertel wat hy alles kan onthou. Die kinders van Oxfordstraat, die paartjies wat hier gevry het. Die ouers wat op snikhete Oudtshoorn-dae met hul babas in stootwaentjies in sy lawende koeltes kom staan het.

Die mense wat op Sondae kerk toe gestap het uit Vaaldraai, Noordeinde en uit die ou Lokasie, want sien, die ou Tafelberg-sandsteenkerk was sentraal geleë tussen Voortrekkerweg in St Johnstraat.

Die kerk was ’n baken nes die boom. Die boom het ons sien skool toe gaan – St Simon’s E.K. Primêr in Oxfordstraat. De Villiers Primêr in Jubileestraat, net agter die statige ou klipkerk wat omring was met baie peperbome. Die peperbome het saam geval toe die kerk gesloop is en die mense tydens die gedwonge verskuiwings moes padgee uit die dorp uit, Bridgton toe, lokasie toe, nes die talle huise in die straat.

Hierdie onreg is ons aangedoen en die peperboom was ’n stil getuie daarvan.

Ek het met my hande oor die boom gestreel. Ek het geheueprentjies in my gees opgeroep van die oud-­inwoners van Oxfordstraat.

Die Pockpasse, die Mooneys, Ant Karlien Oktober en die Hendrickse, Oom Charlie Jaftha en Ant Deel.

Die Stalmeesters, Phillip Wagenaar en Hans, hulle ma, Ant Meraai, en hulle ouma, Ouma “Taai”.

Die Veldmans, Ant Hansie en Oom Ben Olieslager.

Voorheen het ant Bettie Jantjies-hulle ook daar gewoon. Al hierdie families het in die Tafelberg-sandsteenskakelhuise gewoon.

Die boom het gesien hoe al hier­die kinders, volwasse mense geword het: onderwysers/onderwyseresse, polisiemanne, bewaarders, blokmanne, verpleeg- sters, sakemanne, die Wolmaranse, elektrisiëns, die Malgasse, die Mullers.

Meester Alfred Sonn, die skoolhoof in Koningstraat se skool en later Meester John Muller.

Ek het gevoel ek wou die boom skud, vir hom sê: Toe, praat van die suksesverhale van Oudtshoorn en Oxfordstraat se mense wat opgestaan en uitgestyg het uit uiters moeilike omstandighede. Ek wou hê die boom moes vertel hier het nie net bruin­mense gewoon nie.

Hier het oom Hendrik Schoeman gewoon – ’n sakeman wat ’n winkel gehad het, The Blue Star Café, waar Winston Lin­ford se motorwerkswinkel in Voor­trek­kerstraat geleë is. Ook Mr en Mrs Cavour.

Die boom het ook gesien hoe mense uitgedra is uit die ou klipkerk, hoe hulle vervoer is in die lykswa wat nie meer vandag aan iemand behoort nie – ’n lykswa wat deur oom Salie Cloete se perde na die begraafplaas in Condorstraat getrek is.

Ek het onwillekeurig gedink aan ’n gedig wat ek oor die peperboom geskryf het in die bundel Die Fonteyn, en twee aanhalings deur wyle Hans Oosthuizen: “Die water uit die fonteyn moet van die begin tot die einde gedrink word” en: “Uit een fonteyn kan nie soet en bitter water tegelykertyd uitvloei nie.”

Hier is ’n aanhaling uit my gedig:

Ons is soos peperbome skeef en krom
vol knobbels knoetse kwaste
verinneweer en skeefgetrek
God weet waarom
is ons tog so verbaster.


Naskrif: Ek hoop nie iemand of ’n instansie gaan ooit die boom afkap of ontwortel nie, soos ons, die oud-inwoners van ’n byna vergete Oxfordstraat, ontwortel is nie.