Briewe van lesers

Oorbevolking van die wêreld is ’n tydbom

Met verwysing na Pieter se brief oor kindertoelae – Die Hoorn, 5 Aug 2021.

Pieter, ek dink jou bekommernis word deur baie lesers gedeel. Vir my is die ergste dat baie van die wat kindertoelae ontvang nog self kinders is. Mense sal moet leer dat as jy kinders wil hê, moet jy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Jy kan nie vir altyd bakhand staan en verwag dat ander moet help nie. Wat se toekoms is daar vir ’n kind wat al van dag een af van ’n staatsloelaag afhanklik moet wees.

Kan die toelae nie beperk word tot twee kinders nie, kleiner gesinne het tog meer geleenthede en ’n beter kans in die lewe?
Die regering en staatsinstellings is bankkrot, so finansieel is dit net nie volhoubaar nie. Waar gaan die geld later vandaan kom?

Die meeste jongmense vandag sit sonder werk en sal waarskynlik nooit werk kry nie.

Die vraag na behuising en ’n beter lewe vir almal is net nie mootlik nie, want daar is nie geld nie.

Ons sit met ’n swak regering wat nie kan beplan nie. Die betrokke minister deel net geld uit asof dit van ’n boom gepluk word.

Gee meer aandag aan opvoeding en gesinsbeplanning, dis tog tot almal se voordeel en kan armoede verlig.
Ons sit op ’n tydbom – die wêreld is oorbevolk. Die mens is besig om die planeet aarde te vertrap.
– Albert Schoeman,
Middelplaas, De Rust