DIE Kangovalleie Landbouvereniging, wat boere vanaf Buffelsdrift tot by Matjiesrivier bedien, het ’n aantal jare gelede reeds die besluit geneem dat hulle wil terugploeg in gemeenskappe. Onlangs het Helen Bellinganhof op Oudtshoorn sy beurt gekry.
Met fondse wat twee jaar gelede met ’n gholfdag ingesamel is, is hul jongste skenking uit dié fondse by dié tehuis gedoen.
“Ons het besluit om met ons gholfdag-fondsinsamelingsprojek uit te reik na ons dorp se bejaardes,” sê Francois de Kock, die komiteelid verantwoordelik vir die fasilitering van die skenking.
“Ons kon voorverlede jaar reeds ’n aantal verwarmers oorhandig aan twee ouetehuise; en Helen Bellinganhof het die behoefte uitgespreek dat die looppaadjie geteer moet word. Hierdie teerwerk is uiteindelik gedoen nadat Covid-19 ons planne vertraag het,”
Die doel van die paadjie is om die risiko dat bejaardes kan val te verminder.
Volgens suster Fourie doen Helen Bellinganhof alles in hul vermoë om die bejaardes aan te moedig om aan die beweeg te bly.
“Die voorheen ongelyke oppervlakte het gemaak dat die inwoners baie versigtig moes loop om seker te maak dat hulle voete of hul loopringe nie vashaak nie. Ons is so bly dat die paadjie nou meer begaanbaar is!” sê sy.
Landbouvereniging help bejaardes
Die nuutgeteerde looppaadjie by Helen Bellinganhof. (Foto verskaf)