Bobaas Boran-beesboer in Oudtshoorn se midde

Radie Loubser en sy Boran-bul, Vrystaat. (Foto’s verskaf)

AL is sy stoet nie in dieselfde dorp as waar hy woon nie, het ’n plaaslike Boran-beesboer Oudts­hoorn se naam by die onlangse Boran Nasionale Veiling in Parys hoog gehou en met die derde hoogste prys vir ’n bul weg­gestap.

Die 38-jarige Radie Loubser se Boran-beesbul, Vrystaat, het R420 000 by dié bekende veiling behaal. Wat hierdie prestasie nog meer indrukwekkend maak, is dat Loubser se Umoja-stoet tussen De Wetsdorp en Smithfield in die Vrystaat gehou word, en dat hy staatmaak op tegnologie en vertroue in sy span om na sy beeste om te sien.

“Umoja” beteken volgens Loubser unity of eenheid, in Swahili. Uit ongeveer 200 beeste het hy 80 wat in die stoet is. Hy ontvang byna daagliks e-posse oor sy beeste, met gedetailleerde inligting oor onder meer hul gesondheid en groei. “Mens kan immers deesdae selfs ’n bul van papier af koop, want al die belangrike inligting word deurge­gee. Daar is ongelooflik baie tegniese aspekte wanneer dit kom by die veiling van diere.” Van sy beeste is selfs uitgevoer Zimbabwe toe.

Oor sy prestasie by die nasio­nale veiling in Parys vertel Loub­ser dat hy kon sien hoe die prys vir Vrystaat opgaan, maar dat hy nie eens lekker kan ont­hou wat deur sy gedagtes gegaan het terwyl dit gebeur het nie.

“Veilings het al so baie verander oor die jare. Deesdae is dit nie net die ouens op die vloer en telefone wat bie nie, maar daar is aanbiedings wat deur WhatsApp kom, en dan ook twee aanlyn-platforms wat gebruik word. Toe ek sien dat die aanlynprys vir Vrystaat reeds voor die amptelike veiling tot op R130 000 gestyg het, het ek geweet iets groot is aan die kom toe die vloer oopmaak,” vertel hy.

Volgens Loubser is Vrystaat, ’n sagmoedige reus van geaardheid, deur ’n stoet in Bethal gekoop. Maar om net die hoogste bod te plaas of te ontvang is nie waar die veiling stop nie. Loubser vertel dat Vrystaat sommer direk ná die veiling in kwarantyn geplaas is waar genetiese materiaal onmiddelik as versekering “getap” is.

“Mens koop nie die bul nie, maar sy genetika,” vertel hy.

Loubser, wat voorkom of hy regtig omgee vir sy beeste en hulle as meer as net ’n manier om geld te maak beskou, het reeds in 2007 in Oudtshoorn met net drie Boran-koeie begin boer. Hy vertel dat hy oor die jare heen saam met die ras gegroei het, kursusse voltooi het, en selfs as ras-adviseur en -inspekteur vir die Boran-genootskap van SA aangewys is. Dit beteken hy keur selfs Boran-beeste sodat hulle onder die beskerming van die genootskap opgeveil kan word.

Tot en met 2018 het Loubser se aantal beeste in die Oudts­hoorn-omgewing tot 300 ge­groei, iets wat hy sê baie mense nie van geweet het nie. In dieselfde jaar, weens die droogte, het hy egter besluit om sy beeste te verskuif.

“Daar was harde tye, en ons het gesukkel, maar ek het ’n ware passie vir die Boran-ras opgebou, en vir baie bewys mens kan langafstand boer.”

Om langafstand te boer het natuurlik ook sy hindernisse, voeg Loubser by. Hy besoek sy kudde vier tot vyf keer per jaar.

“Dit is baie moeilik, en mens verlang na die fisieke kontak met jou diere. Jy moet natuurlik ’n betroubare span hê wat kan instaan as iets fout gaan. Mens vorm ook beslis ’n verhouding met jou diere – hulle was soos my kopdokters toe ek hulle nog in Oudtshoorn gehad het – en dit was nogals traumaties om hulle te moes skuif. Aan die einde van die dag was dit tog die beste besluit.”

Sy keuse om met Boran-beeste te boer, wat hul oorsprong in Kenia het, was maklik nadat hy die navorsing gedoen het, sê Loubser.

“Hulle is maklik om mee te boer, bestand teen bosluise en hitte, en het ’n baie goeie moe­derlike instink. Die ras het oor so 1 500 jaar in ’n geslote genepoel, onderhewig aan natuurlike seleksie, gefloreer voordat hulle regoor die wêreld uitgevoer is,” vertel hy.

Volgens Loubser is hy nog lank nie klaar geboer nie.

“Daar is nog baie wat kom.

“Op die oomblik wil ek daarop fokus om my stoet geneties te verbeter, so ek self koop nog beeste aan.” (Deur Stefan Goosen)